In daardie tyd het Augustus, die Romeinse keiser, ’n bevel uitgereik dat ’n sensus gehou moet word om vas te stel hoeveel mense daar in die Romeinse Ryk bly. Hierdie sensus het plaasgevind toe Sirenius die Romeinse goewerneur van Sirië was. Almal moes in daardie tyd na hulle geboorteplek toe gaan om hulle daar te laat registreer. Daarom het Josef, Maria se verloofde, van Nasaret in Galilea na Betlehem in Judea, die stad van Dawid, gegaan. Hy het soontoe gegaan omdat hy uit Dawid se nageslag kom. Maria, wat in daardie stadium al lank swanger was, het saam met hom gegaan.
Terwyl Josef en Maria daar in Betlehem was, het die tyd aangebreek dat haar Kind gebore moes word. Sy het toe ’n Seun in die wêreld gebring. Dit was haar eerste kind. Sy het Hom styf in doeke toegedraai en neergelê in ’n voerbak waaruit die diere hulle kos geëet het. Daar was geen ander plek vir Josef en Maria in Betlehem nie. Al die gastekamers en herberge was vol.
Daar in die omgewing van Betlehem het ’n klompie skaapwagters gebly. Hulle het in die oop veld geslaap. Snags het hulle hulle skape opgepas. Een nag, uit die bloute, het ’n engel van die Here daar by hulle kom staan. Die Here se heerlikheid het alles om hulle helder verlig. Die skaapwagters het hulle doodgeskrik. Maar die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Ek het baie goeie nuus vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier. Hierdie goeie nuus is ook vir die hele volk bedoel: vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak. Hy is die Messias en die Here oor almal. Gaan kyk! Gaan soek na ’n baba wat styf in doeke toegedraai is en in ’n voerbak lê. Dit is Hy!”
Skielik het daar ’n groot skare engele uit die hemel by die engel aangesluit. Daar in die oop veld het ’n koor van hemelse stemme God geprys:
“Eer aan God. Eer aan Hom wat in die hoogste hemel bly. En vrede vir almal hier op die aarde; vrede vir almal oor wie God nou feesvier.”
Nadat die engele teruggekeer het na die hemel toe, het die skaapwagters opgewonde vir mekaar gesê: “Waarvoor wag ons nog? Kom ons gaan dadelik Betlehem toe. Kom ons gaan soek Hom van wie die Here ons pas vertel het.” Hulle het toe haastig soontoe gegaan. Daar het hulle vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê. Die skaapwagters kon hulle oë nie glo nie. Hulle het dadelik vertel wat die engele vir hulle oor die Kindjie gesê het. Almal was aangegryp deur die skaapwagters se verhaal. Maria ook. Sy het die skaapwagters se woorde diep in haar binneste weggebêre en gereeld daaraan teruggedink.
Later het die skaapwagters teruggegaan na hulle skape toe. Hulle harte het oorgeloop van dankbaarheid teenoor God. Hulle het sy Naam geloof oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Alles was presies net soos die engel vir hulle gesê het.
Toe die Kindjie agt dae oud was, die dag waarop alle Joodse seuntjies besny is, het Hy sy Naam gekry. Hy is Jesus genoem, soos die engel voor sy geboorte al vir Maria gesê het.
Toe Maria se reinigingstyd van 40 dae verby was (soos die wet van Moses voorgeskryf het vir vroue wat geboorte gegee het), het sy en Josef vir Jesus Jerusalem toe gevat. Daar het hulle Hom aan God gaan toewy soos die wet dit vereis. In die wet van die Here staan daar immers: “Elke seun wat eerste in ’n huisgesin gebore word, moet aan die Here toegewy word. Hy moet eenkant gesit word vir die Here se diens.” Daar by die tempel het hulle ook die voorgeskrewe offer gebring om vroue weer rein te maak nadat hulle geboorte geskenk het. Volgens die wet van die Here kon arm mense twee tortelduiwe of twee jong duiwe aan die Here offer. Dit het hulle dan ook gedoen.
Daar het ’n man in Jerusalem gebly met die naam Simeon. Hy was ’n baie goeie man. Simeon het die wet van Moses streng gehoorsaam. Sy hele lewe lank het hy uitgesien na die koms van die Messias. Die Heilige Gees was by hom. Op ’n dag het die Gees ook vir hom gewys dat hy nie sou doodgaan voordat hy die Messias, die Gestuurde van die Here, gesien het nie.
Op ’n dag het die Gees Simeon gelei om na die tempel toe te gaan. Dit was op presies dieselfde tydstip toe Jesus se ouers Hom in die tempel ingebring het om Hom aan God toe te wy. Toe Simeon vir Jesus sien, het hy na Hom toe gestap en Hom dadelik in sy arms opgetel. Hy het God geprys en gesê:
“Here, U kan my nou maar laat doodgaan, want U het u woord gehou. U dienskneg kan nou in vrede sterf, want ek het nou Hom gesien vir wie U gestuur het om die wêreld te red. Almal op aarde kan Hom nou ook sien en sy redding beleef, want U het die Verlosser hier onder ons die lewenslig laat sien. Hy sal ’n lig wees vir al die volke op die aarde wat in die donker leef. Hy sal ook groot eer aan u volk Israel bring.”
Jesus se pa en ma was verstom oor wat Simeon gesê het. Simeon het hulle geseën en vir Maria gesê: “Kyk, baie mense sal nog oor hierdie Kind struikel en val. Gelukkig sal ander deur Hom die ware lewe ontdek. Maar baie sal nie verstaan wie Hy is nie en lelik van Hom praat. Maria, al hierdie dinge wat met die Kind gebeur, sal nog groot hartseer in jou eie lewe bring. Dit sal soos ’n swaard wees waarmee mense jou deurboor.”