Lukas 18:31-43

Lukas 18:31-43 DB

Op ’n dag het Jesus die twaalf dissipels eenkant toe geroep. Hy sê toe vir hulle: “Julle weet dat ons op pad is Jerusalem toe. Ek moet soontoe gaan om alles te laat waar word wat daar in die Bybel oor die Seun van die mens geskryf is. Daar in Jerusalem gaan ’n spul ongelowiges My vang. Hulle sal My voor almal spot en beledig en slaan. Uiteindelik sal hulle My ook doodmaak. Maar moenie bekommerd wees nie; die dood is nie sterk genoeg om My vir altyd in sy greep vas te hou nie. Ek sal op die derde dag weer lewendig word.” Die dissipels het egter niks verstaan van wat Jesus vir hulle sê nie. Die tyd was nog nie reg dat hulle dit alles sou verstaan nie. Later, toe Jesus naby Jerigo kom, sit daar ’n blinde langs die pad en bedel. Die man het agtergekom ’n groot klomp mense stap by hom verby. “Wat is aan die gang?” vra hy toe. “Jesus van Nasaret gaan hier verby,” het iemand geantwoord. Die blinde man het dadelik hard begin skree: “Jesus, Seun van Dawid, kry my jammer, asseblief!” Maar die mense het vir hom gesê: “Bly stil! Hou op om so te skree!” Dit het nie gehelp nie. Die blinde het net nog harder geskree: “Jesus, Seun van Dawid, kry my jammer, asseblief!” Jesus gaan staan toe stil en sê vir die mense: “Bring daardie man wat so skree na My toe.” Toe die blinde naby Jesus kom, vra Hy hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” “Ag, Here, ek wil so graag sien!” antwoord hy. “Nou toe, sien dan! Jou wens het waar geword omdat jy glo,” het Jesus gesê. Dadelik kon die man weer sien. Hy kon sy oë nie glo nie. Vol blydskap het hy by die res van die skare ingeval en agter Jesus begin aanstap. Hy het oor en oor vir God dankie gesê omdat Hy so goed vir hom is. Die mense was net so opgewonde. Hulle het ook God se Naam grootgemaak oor wat gebeur het.