LUKAS 18:31-43

LUKAS 18:31-43 AFR83

Jesus het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word. Hy sal uitgelewer word aan die heidene; Hy sal bespot en beledig word; hulle sal op Hom spoeg, Hom gesel en Hom daarna doodmaak. En op die derde dag sal Hy uit die dood opstaan.” Maar van hierdie dinge het hulle niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister, en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie. Jesus het naby Jerigo gekom. Toe 'n blinde man wat daar langs die pad sit en bedel, die groot menigte mense hoor verbyloop, vra hy wat aan die gang is. Hulle vertel hom toe: “Jesus van Nasaret gaan hier verby.” Toe roep hy uit: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Die mense wat voor geloop het, het hom beveel om stil te bly, maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Jesus gaan toe staan en gee bevel dat hy na Hom toe gebring moet word. Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” En hy antwoord: “Here, dat ek kan sien.” Jesus sê vir hom: “Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered.” En onmiddellik kon hy sien, en hy het Jesus gevolg en God geprys. Ook al die mense wat dit gesien het, het aan God die eer gegee.