Op ’n dag het ’n baie belangrike man vir Jesus gesê: “Goeie Leermeester, sê my, wat moet ek doen sodat ek vir altyd in God se wêreld kan bly?”
“Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, jy moet God se voorskrifte gehoorsaam. En jy ken tog al God se voorskrifte: jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie leuens vertel nie, en jy moet respek hê vir jou pa en ma.”
“Ag wat, ek doen al daardie dinge van kleins af,” sê die man. Daarop antwoord Jesus: “Wel, dan is daar nog net een klein dingetjie wat jy moet doen. Gaan verkoop al jou besittings. Gee dan al die geld vir die armes. Laat staan alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit doen, het jy vir jou ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.”
Hierdie woorde het die man baie omgekrap, want hy was skatryk. Hy was nie van plan om alles wat hy het aan sy familie en aan die armes uit te deel nie.
Toe Jesus agterkom hoe omgekrap die ryk man is, sê Hy vir sy dissipels: “Sien julle, dis glad nie maklik vir iemand wat ryk is om ’n plek in God se nuwe wêreld te kry nie. Dit is selfs vir ’n groot kameel makliker om deur die klein gaatjie van ’n naald te stap as wat dit vir ’n ryk persoon is om sy voete in God se nuwe wêreld te sit.”
Die omstanders was verbysterd oor hierdie woorde. Hulle vra Hom toe: “Maar wie op aarde kan dan gered word?”
Jesus sê toe vir hulle: “Ja, julle is reg. Op julle eie kan julle nooit daar uitkom nie. Maar God kan enigiets doen. Vertrou op Hom.”
Maar Petrus was nog nie tevrede nie: “Wag ’n bietjie, Here! Sê asseblief reguit vir ons wat ons kans is om daar uit te kom. Kyk, ons het immers al ons besittings verkoop en u volgelinge geword.”
“Ek het baie goeie nuus vir julle!” het Jesus dadelik geantwoord. “Ek gee julle vandag die versekering dat almal wat iets groots moes opoffer om te doen wat God vra, definitief ’n plek in sy nuwe wêreld sal kry. As jy jou familie moet opoffer omdat jy in My glo, sal jy daarvoor vergoed word. Sommer nou al. Ja, jy sal elke dag oorlaai word met God se goedheid. En jy sal vir seker ook ’n plek kry in sy nuwe wêreld.”
Op ’n dag het Jesus die twaalf dissipels eenkant toe geroep. Hy sê toe vir hulle: “Julle weet dat ons op pad is Jerusalem toe. Ek moet soontoe gaan om alles te laat waar word wat daar in die Bybel oor die Seun van die mens geskryf is. Daar in Jerusalem gaan ’n spul ongelowiges My vang. Hulle sal My voor almal spot en beledig en slaan. Uiteindelik sal hulle My ook doodmaak. Maar moenie bekommerd wees nie; die dood is nie sterk genoeg om My vir altyd in sy greep vas te hou nie. Ek sal op die derde dag weer lewendig word.”
Die dissipels het egter niks verstaan van wat Jesus vir hulle sê nie. Die tyd was nog nie reg dat hulle dit alles sou verstaan nie.
Later, toe Jesus naby Jerigo kom, sit daar ’n blinde langs die pad en bedel. Die man het agtergekom ’n groot klomp mense stap by hom verby. “Wat is aan die gang?” vra hy toe.
“Jesus van Nasaret gaan hier verby,” het iemand geantwoord. Die blinde man het dadelik hard begin skree: “Jesus, Seun van Dawid, kry my jammer, asseblief!” Maar die mense het vir hom gesê: “Bly stil! Hou op om so te skree!” Dit het nie gehelp nie. Die blinde het net nog harder geskree: “Jesus, Seun van Dawid, kry my jammer, asseblief!”
Jesus gaan staan toe stil en sê vir die mense: “Bring daardie man wat so skree na My toe.”
Toe die blinde naby Jesus kom, vra Hy hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”
“Ag, Here, ek wil so graag sien!” antwoord hy.
“Nou toe, sien dan! Jou wens het waar geword omdat jy glo,” het Jesus gesê.
Dadelik kon die man weer sien. Hy kon sy oë nie glo nie. Vol blydskap het hy by die res van die skare ingeval en agter Jesus begin aanstap. Hy het oor en oor vir God dankie gesê omdat Hy so goed vir hom is. Die mense was net so opgewonde. Hulle het ook God se Naam grootgemaak oor wat gebeur het.