Kort daarna het Jesus een sabbatdag na ’n Joodse sinagoge toe gegaan om die mense daar te leer wat God van hulle vra. Daar was ook ’n vrou in die skare wat al agtien jaar lank baie siek was. Haar hele liggaam was inmekaargetrek. Sy kon nie normaal loop nie. Toe Jesus haar raaksien, het Hy haar jammer gekry en dadelik vir haar gesê: “Ek het baie goeie nuus vir jou: van hierdie oomblik af is jy heeltemal gesond.”
Toe Jesus sy hand op haar sit, het sy dadelik regop gestaan. Sy was so bly dat sy God se Naam grootgemaak het. Maar die hoof van die sinagoge was baie kwaad omdat Jesus iemand op die sabbatdag gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense wat hierdie wonderwerk aanskou het: “Kyk, daar is ses dae waarop ’n mens kan werk. Op daardie dae kan siekes gesond gemaak word. Maar definitief nie op die sabbat nie. Dié man het hier voor ons oë die sabbat oortree.”
“Julle skynheiliges!” het Jesus dadelik teruggekap. “Gee julle nie op die sabbat vir julle diere kos en water nie? Tel dit nie as werk nie? Ek het vandag ’n Israelitiese vrou verlos wat agtien jaar lank deur die duiwel gekasty is. Na al die jare van swaarkry is sy uiteindelik vry. Is dit nie gepas dat sy juis op God se rusdag self ware rus moes vind nie?”
Die ander godsdienstige leiers wat ook vir Jesus kwaad was, het skaam gekry toe hulle hoor wat Hy sê. Maar die res van die mense was oorstelp van vreugde oor alles wat Jesus gedoen het.
Toe sê Jesus vir hulle: “Hoe kan Ek vir julle verduidelik hoe God se nuwe wêreld daar uitsien? Ja, kom Ek gebruik die volgende voorbeeld: God se nuwe wêreld kan vergelyk word met ’n baie klein saadjie soos ’n mosterdsaadjie. Iemand vat dit en gaan plant dit in sy tuin. Uit hierdie piepklein saadjie groei later so ’n groot struik dat dit bo al die ander plante in die tuin uitstaan. Om die waarheid te sê, dis so groot dat al die voëls daarin nes kan maak.
“Hier is nog ’n voorbeeld hoe God se nuwe wêreld werk: ’n Vrou vat ’n bietjie suurdeeg en knie dit dan baie goed in ’n skottel deeg in. Na ’n rukkie deurtrek die suurdeeg al die deeg in daardie skottel en laat dit rys.”
Terwyl Jesus op pad was Jerusalem toe het Hy langs die pad by die dorpe en die klein plekkies aangegaan en die mense daar gaan leer. By een van hierdie plekke het iemand Hom gevra: “Here, hoeveel mense gaan ’n plek kry in God se nuwe wêreld? Seker maar min?”
“Ja, jy is reg. Baie mense sal probeer om daar in te kom, maar hulle gaan dit nie maak nie. Dit is nie maklik om daar in te kom nie. Daarom moet jy jou inspan as jy daar wil inkom. Doen jou uiterste bes. Want baie gaan probeer om daar in te kom, maar min mense gaan dit maak.
“Kom Ek gebruik ’n beeld om vir julle te verduidelik wie almal in my nuwe wêreld plek gaan kry. Weet julle, Ek is soos Iemand met ’n groot huis. Daar is natuurlik oorgenoeg plek in my huis vir almal wat doen wat Ek sê. Maar op ’n dag gaan Ek my huis se deur sluit. Dan sal baie mense wat nog buite staan, probeer inkom. Hulle sal aan die deur klop en uitroep: ‘Here, Here, U het van ons vergeet. Ons staan nog buite. Maak asseblief vir ons oop!’
“Maar Ek sal van binne af antwoord: ‘Gaan weg! Ek weet nie wie julle is nie. Hier’s nie plek vir julle nie.’
“Dan sal hulle antwoord: ‘Maar onthou U ons dan nie meer nie? Ons het saam met U geëet en feesgevier. Toe U hier by ons op die aarde was, het ons oral agter U aangeloop.’
“Dan sal Ek antwoord: ‘Ek het nie die vaagste idee wie julle is of waarvandaan julle kom nie. Gee dadelik pad, julle goddelose spul! Hier in my huis is daar nie plek vir julle nie.’
“Waarheen dink julle moet daardie mense dan gaan? Na die doderyk toe, natuurlik. En daar is dit een groot hartseerspul. Veral vir dié van julle wat onder die misverstand verkeer dat julle ’n plek gaan kry in God se nuwe wêreld. Weet julle hoe verskriklik dit gaan wees as julle al die groot name uit julle geskiedenis, vir Abraham en Isak en Jakob en die profete, daar in God se wêreld sien, maar julle self moet buite staan? Julle sal huil en skreeu van die pyn. Maar dan is dit natuurlik te laat. Van oor die hele wêreld sal mense na God se nuwe wêreld toe stroom terwyl julle spul wat gedink het dat net julle daar gaan plek kry, dit nie sal maak nie.
“Uiteindelik sal al die rolle omkeer: mense wat nou agter in die ry van die lewe staan omdat hulle My volg, sal daar baie belangrik wees. Maar diegene wat nou belangrik is, sal geen plek in God se nuwe wêreld hê nie.”
Later daardie dag het ’n paar Fariseërs wat simpatiek teenoor Jesus gestaan het vir Hom kom sê: “U moet dadelik padgee. Ons het gehoor dat Herodes, die heerser oor Galilea, op u spoor is. Hy wil U doodmaak.”
Jesus sê toe: “Gaan sê julle vir daardie skelm dat Ek sal aanhou om siek mense gesond te maak en om duiwels uit te dryf. Ek sal dit vandag doen, en môre, en tot op die derde dag. Maar intussen moet Ek voortgaan met my reis na Jerusalem. Die volgende drie dae moet Ek gebruik om daar uit te kom. Want sê nou Herodes doen wat hy sê, dan gaan Ek nog buitekant Jerusalem dood. En dit mag nie! God se plan is dat Ek daar in die stad moet doodgaan. Dit is nie reg dat sy boodskapper buite die stad sterf nie.
“Maar terwyl Ek oor Jerusalem praat. Vir julle almal wat daar bly, wag daar bitter swaar tye. Kyk net wat vang julle aan: julle gooi die boodskappers wat God na julle toe stuur met klippe dood! Ek wou julle so graag omhels en julle Vriend wees; glo My, Ek wou. Ek voel oor julle soos ’n hen oor haar kuikens. Maar julle wou niks weet nie. Julle het klaar die rug vir My gedraai. Daarom sal daar van julle niks oorbly nie. Jerusalem gaan ’n spookdorp word.
“Ek het niks meer om vir julle te sê nie. Maar weet julle, daar kom ’n dag dat julle gedwing sal word om uit te roep: ‘Hy is toe al die tyd die Een wat van die Here af kom. Loof sy Naam!’”