Die tweede duif verbrand hy volgens die voorskrifte wat vir hom gegee is. So bring die dienaar by die tent vir die man vrystelling van die oortreding wat hy begaan het. God vergewe hom. “Indien ’n persoon nie genoeg geld het vir twee tortelduiwe of twee jong duiwe nie, kan die persoon wat oortree het, twee kilogram fynmeel vir sy sonde bring. Omdat dit ’n offer vir sy sonde is, mag hy nie olyfolie of geurige wierook daaroor sit nie. Hy bring die meel na die dienaar by die tent van ontmoeting. Die amptenaar sal dan ’n hand vol daarvan vat vir die deel wat verbrand moet word en dit op die altaar verbrand saam met die diere wat vir die Here in die vuur verbrand word. Dit sal die offer vir sy sonde wees. Op hierdie manier bring die dienaar ’n offer vir enige van die oortredings wat hierbo genoem is wat die persoon begaan het. Die persoon word vir sy oortreding vergewe. Met die meel wat oor is, maak die dienaar net soos met dié wat oor was by die offer wat gebring is om saam met die Here te eet.” Die Here het verder vir Moses gesê: “Iemand is miskien nie getrou aan God nie. Deur sy agtelosigheid respekteer hy nie die dinge wat vir die Here belangrik is nie. Hy moet dan iets vir die Here bring om sy oortreding weer goed te maak. Die dier wat hy bring om sy skuld goed te maak moet ’n skaapram uit sy veetrop wees wat geen foute het nie. Die waarde daarvan moet deur die dienaar by die tent bepaal word. Hy moet vergoed vir die skade wat hy die Here se blyplek laat ly het. Hy moet een vyfde meer betaal as die verlies wat hy veroorsaak het. Hy moet die geld vir die dienaar by die tent kom gee. Die dienaar herstel die skade wat hy gemaak het met die skaapram wat vir sy oortreding geslag word. Sy oortreding word dan vergewe. “As iemand nalatig is en iets doen wat die Here verbied het, is hy skuldig. Hy word daarvoor verantwoordelik gehou. Hy bring ’n ram sonder enige foute na die dienaar by die tent toe. Dit moet net soveel werd wees as die oortreding wat hy begaan het. Die dienaar gebruik dit om te betaal vir die fout wat hy gemaak het waarvan hy nie bewus was nie. Hy word dan van sy oortreding vrygespreek.
Lees Levitikus 5
Deel
Vergelyk alle weergawes: Levitikus 5:10-18
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's