Levitikus 5:10-18

Levitikus 5:10-18 AFR20

Die tweede duif moet hy, soos voorgeskryf word, as 'n brandoffer hanteer. Die priester sal vir hom versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het en hy sal vergewe word. Maar as hy nie twee tortelduiwe of twee jong duiwe kan bekostig nie, moet hy as offer vir sy sonde 'n tiende van 'n efa gesifte meel as reinigingsoffer bring. Hy mag egter nie olyfolie daaroor gooi en wierook daarop neersit nie, omdat dit 'n reinigingsoffer is. Hy moet dit na die priester bring en die priester moet 'n hand vol daarvan neem as simboliese offer en dit op die altaar verbrand, saam met ander offergawes vir die HERE. Dit is 'n reinigingsoffer. So sal die priester vir hom versoening doen vir enige van hierdie sondes wat hy gedoen het en sal hy vergewe word. Soos met die •graanoffer, kom die res van die offer die priester toe.’ ” Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Wanneer iemand reëls oortree en onopsetlik sondig teen iets wat aan die HERE gewy is, moet hy 'n •hersteloffer vir die HERE bring: 'n ram sonder gebrek uit die kleinvee, waarvan die loskoopwaarde, bereken in sikkel silwer volgens die standaardgewig van die heiligdom, genoeg is vir 'n hersteloffer. Vir die sonde wat hy teen die heiligdom gedoen het, moet hy vergoeding betaal, 'n vyfde van die waarde byvoeg en dit vir die priester gee. Met die ram van die hersteloffer sal die priester vir hom versoening doen en hy sal vergewe word. “ As iemand, wanneer hy sondig deur onwetend te doen wat een van die gebooie van die HERE sê nié gedoen mag word nie, skuldig is, moet hy sy skuld dra. Hy moet uit die kleinvee 'n ram sonder gebrek met die loskoopwaarde van 'n hersteloffer vir die priester neem. Die priester sal vir hom versoening doen vir die fout wat hy onopsetlik en sonder om dit te besef, gemaak het, en hy sal vergewe word.