Levitikus 19

19
Leef net vir die Here, want Hy is die enigste God
1Die Here het verder vir Moses beveel 2om vir die hele Israel te sê: “Julle moet net vir My lewe. Ek, die Here julle God, is die enigste God wat daar is. 3Elkeen moet vir sy ma en sy pa respek hê. Omdat Ek, die Here, julle God is, moet julle rus op die dae wat Ek daarvoor eenkant gesit het. 4Moenie agter afgodjies aanhardloop nie. Moenie vir julleself afgode maak nie, want Ek, die Here, is mos alreeds julle God.
5“Wanneer jy ’n offer vir die Here bring om te wys dat jou gesindheid teenoor Hom reg is, offer dit dan so dat die Here ook teenoor jou ’n goeie gesindheid kan hê. 6Eet die vleis van hierdie offer nog op dieselfde dag wat julle dit slag. Julle kan dit selfs nog op die dag daarna eet. As daar op die derde dag nog iets daarvan oor is, moet julle dit verbrand. 7Dit is nie vir My reg as daar nog op die derde dag van die vleis van die offer geëet word nie. Dit het dan alreeds sleg geword. 8Iemand wat dit eet, doen boonop sonde, want hy gebruik die offer wat vir die Here gebring is vir homself. Daar is nie plek vir sulke mense in my volk nie. 9Wanneer julle oes, moet julle nie alles tot op die kant van die land wegoes nie. Julle moet ook nie die are wat met die oes op die grond bly lê het, agterna weer gaan optel nie. 10Julle moet ook nie julle wingerde kaal stroop tot op die laaste korrel nie. Moenie die druiwe wat geval het, gaan optel nie. Los dit vir die arm mense en vir die vreemdelinge van ander plekke wat by julle bly. Ek is tog die Here julle God.”
Respek vir ander mense
11“Julle moenie mekaar se goed steel nie. Julle moet ook nie mekaar belieg en bedrieg nie. 12Julle moet ook nie my Naam gebruik en dan ’n vals belofte aflê nie. Julle maak dan die Naam van julle God belaglik. Ek is tog die Here. 13Moenie jou medemens uitbuit en by hom steel nie. Betaal die tydelike werker wat jy hom skuld. Moenie dit terughou nie. 14Uit respek vir jou God mag jy nie ’n dowe persoon met minagting behandel nie. Jy moet ook nie iets in die pad van ’n blinde mens sit sodat hy daaroor val nie. Ek is die Here. 15Wees regverdig wanneer jy besluite moet maak. Moenie kant kies vir iemand omdat hy arm is of omdat hy belangrik is nie. Jy moet jou medemens regverdig behandel. 16Moenie loop en kwaadpraat oor ander nie. Moenie jou naaste se lewe bedreig nie. Ek is die Here. 17Moenie met ’n wrok in jou hart teen ’n ander rondloop nie. Praat die saak met hom uit sodat jy nie oor hom begin verkeerd doen nie. 18Moenie loop en kyk hoe jy iemand kan terugkry nie. Moenie met ’n grief rondloop teen een van jou volksgenote nie. Jy moet net soveel vir ander omgee as wat jy vir jouself omgee. Ek is die Here.”
Verdere voorskrifte
19“Julle moet by my reëls hou. Moenie verskillende soorte diere met mekaar paar nie. Julle moet ook nie verskillende soorte saad in dieselfde land saai nie. Julle moet ook nie klere dra wat van verskillende soorte materiaal gemaak is nie. 20Iemand anders se werker kan aan ’n ander man beloof wees. As iemand by haar slaap terwyl die ander man nog nie vir haar betaal het nie en haar eienaar het haar nog nie laat gaan nie, moet daar slegs vergoeding betaal word. Die twee hoef egter nie doodgemaak te word nie. Sy behoort nog steeds aan die oorspronklike eienaar. 21Die man wat by haar geslaap het, moet ’n ram vir sy skuld by die ingang van die Here se tent kom offer. 22Die dienaar by die tent sal die ram slag om vir hom vergifnis by die Here te kry vir die oortreding wat hy begaan het. Hy sal vergewe word vir wat hy aangevang het.
23“Wanneer julle in die land gaan woon waarheen Ek julle vat en julle vrugtebome daar plant, moet julle vir die eerste drie jaar glad nie die vrugte pluk nie. Hulle is dan soos iemand wat nog nie besny is en nog nie aan my volk behoort nie. Hulle mag nog glad nie geëet word nie. 24In die vierde jaar moet al die vrugte aan die Here gewy word om vir Hom daarvoor dankie te sê. 25Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte eet. So sal die bome meer vrugte dra. Ek is die Here, julle God.
26“Moenie deelneem aan seremonies waar daar bloed gedrink word nie. Moenie julle tyd mors met voorspellings en waarsêery nie. 27-28Julle moet ook nie die hare teen julle slape en die kant van julle baard afskeer en merke in julleself kerf of tatoeëermerke op julle lyf maak soos die heidene wanneer hulle oor die dooies rou nie. Ek is die Here. 29Jy mag nooit jou dogter beskikbaar stel om afgode te aanbid nie. Jy mag haar nooit as ’n prostituut by ’n heidense tempel laat werk nie. Dit sal maak dat die land se mense agter afgode aangaan en die land vol skandelike dinge word.
30“Wanneer dit ’n rusdag is, moet julle rus. Julle moet ook respek hê vir die plek waar mense My ontmoet om My te aanbid. Ek is die Here. 31Moenie hulp soek by spiritiste en die geeste van dooies nie. Dit maak julle vir My onaanvaarbaar. Ek is tog die Here julle God. 32Uit respek vir jou God moet jy staan wanneer daar oumense in die geselskap is. Jy moet hulle met agting behandel. Ek is die Here. 33-34Moenie ’n buitelander wat tydelik by julle in die land bly, uitbuit nie. Behandel hom soos ’n gebore Israeliet. Jy moet vir hom omgee soos jy vir jouself omgee. Julle was immers in Egipte maar ook self buitelanders. Ek is die Here julle God. 35Moenie kul as julle iets moet afmeet of dit op ’n skaal weeg of die inhoud daarvan moet bepaal nie. 36Die skaal wat jy gebruik, die gewigte wat jy daarop sit en die houer waarin jy iets afmeet, moet korrek wees. Omdat Ek, die Here julle God, julle uit Egipte bevry het, 37moet julle my reëls en voorskrifte volg en volgens hulle optree. Ek is die Here.”

Tans Gekies:

Levitikus 19: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

Video vir Levitikus 19