Josua 2:1-7

Josua 2:1-7 DB

Daarna het Josua in die geheim twee spioene uit die kamp in Sittim na Kanaän toe gestuur. Hy het vir hulle gesê: “Gaan kyk die land deur en veral die stad Jerigo.” Hulle is toe daar weg. In Jerigo aangekom, het hulle in die huis van Ragab, ’n prostituut, gaan bly. Die koning van Jerigo het uitgevind dat daar in die nag Israelitiese mans in die land aangekom het om dit te verken. Hy laat weet toe vir Ragab: “Die mans in jou huis het hiernatoe gekom om op ons te spioeneer. Lewer hulle dadelik aan my uit!” “Hier was mans by my,” antwoord sy die koning, “maar ek het nie geweet waarvandaan hulle kom nie. Hulle is in elk geval teen donker al hier weg, nog voordat die stad se hekke gesluit is. Ek weet nie waarheen hulle is nie, maar as julle gou maak, kan julle hulle dalk nog inhaal.” Intussen het Ragab egter die twee mans op die dak laat klim en hulle tussen die bondels strooi laat wegkruip wat sy daar opgestapel het. Die koning se soldate is toe daar weg om na die spioene te gaan soek op die pad wat langs die vlakker dele van die Jordaan verbyloop. Nadat die soldate daar uit is, is die stad se hekke weer agter hulle gesluit.