Jona 1:9-16

Jona 1:9-16 DB

Hy sê toe vir hulle: “Ek is ’n Hebreër. Ek aanbid die Here, die God van die hemel. Dit is Hy wat die see en die land gemaak het.” Die matrose het verskriklik bang geword. Hulle het geweet dat hy van die Here af probeer wegkom het. Jona het vir hulle vertel dat die Here hom na Nineve toe gestuur het en dat hy nie wou gaan nie. Hulle het vir hom gevra: “Hoe op aarde kan jy so iets doen?” Die storm het al erger geword. Hulle vra toe vir Jona: “Wat moet ons met jou maak, dat hierdie storm kan bedaar?” “Julle moet my in die see gooi,” sê Jona, “dan sal die see weer kalm word. Ek besef nou dat ek die oorsaak is dat julle in hierdie storm beland het.” Die matrose het eers land toe probeer roei. Hulle kon dit nie regkry nie, want die see was te rof. Hulle het toe tot die Here begin bid: “Here, moet ons asseblief nie oor hierdie man laat doodgaan nie. Ons is jammer as ons hom nou onskuldig in die see gaan gooi, maar U moet maar met hom laat gebeur wat U goeddink.” Hulle het toe vir Jona gevat, hom oor die kant van die skip gelig en hom in die see gesmyt. Die storm op die see het dadelik bedaar. Dit het die matrose baie groot respek vir die Here gegee. Hulle het net daar ’n offer vir Hom gebring en belowe dat hulle Hom voortaan sal aanbid.