Job 1:6-22

Job 1:6-22 DB

Op ’n dag het die inwoners van die hemel na die Here toe gekom. Die Satan was saam met hulle daar. Hy het mense gewoonlik aangekla. Die Here het vir hom gevra: “Waar kom jy vandaan?” Satan het geantwoord: “Ek het heen en weer en kruis en dwars oor die aarde rondgegaan.” Die Here het toe vir die Satan gevra: “Het jy miskien vir Job raakgesien? Hy behoort aan My en doen net wat Ek hom vra om te doen. Op die hele aarde is daar nie ’n mens wat sy gelyke is nie. Hy lei ’n skoon en eerlike lewe. Hy doen ook nie verkeerde dinge nie. Hy dien My en hy bly van slegte en verkeerde goed af weg.” Satan het die Here geantwoord: “Ja, Job dien U, maar nie om dowe neute nie. Hy wil iets daaruit kry. U het hom en sy huisgesin en alles wat hy het nog altyd beskerm. U sorg dat hy ’n sukses maak van alles wat hy doen. Sy rykdom word net meer en meer. Maar waag dit net om aan sy goed te vat en kyk wat sal gebeur. Hy sal U in u gesig slegsê!” Die Here het toe vir Satan gesê: “Dit is reg so, jy kan met sy goed maak net wat jy wil. Maar van Job hou jy jou hande af!” Die Satan het toe van die Here af weggegaan. Op ’n dag was Job se kinders weer bymekaar in die oudste seun se huis. Hulle het saam geëet en wyn gedrink.Terwyl hulle besig was om so saam te kuier, het ’n boodskapper by Job se huis aangekom. Hy het gesê: “Ons was besig om die land met osse te ploeg. Die donkies het daar by ons gestaan en wei. Die volgende oomblik het die Sabeërs op ons toegesak. Hulle het die diere gesteel en die werkers doodgemaak. Ek is die enigste een wat weggekom het om vir u te kom vertel wat daar gebeur het.” Terwyl die man nog besig was om te praat, het daar ’n tweede boodskapper met nog nuus aangekom. Hy het gesê: “Die weerlig het geslaan en al die skape en die wagters is raak geslaan. Hulle is op die plek dood. Ek is die enigste een wat oorleef het om vir u te kom vertel wat daar gebeur het.” Terwyl hierdie boodskapper nog besig was om te praat, het ’n derde een met nuus opgedaag. Hy het gesê: “Die Babiloniërs het met drie bendes toegeslaan. Hulle het die kamele gesteel en u oppassers doodgemaak. Ek is die enigste een wat ontsnap het om vir u te kom vertel wat daar gebeur het.” Hierdie derde boodskapper was nog besig om te praat toe nog een met nuus daar aankom. Hy het gesê: “U kinders was besig om saam te eet en te kuier in u oudste seun se huis toe ’n ramp hulle tref. ’n Baie sterk wind het van die woestyn af gewaai. Dit het die huis met mening van alle kante af getref. Die wind het die huis omgewaai en dit het bo-op u kinders geval. Hulle is almal dood. Ek is die enigste een wat oor is om vir u te kom vertel wat daar gebeur het.” Toe Job die slegte nuus hoor, het hy begin rou. Hy het opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook al sy hare afgesny. Toe het hy neergeval en met sy gesig teen die grond gaan lê. Hy het gesê: “Toe ek gebore is, het ek met niks in hierdie wêreld ingekom nie. As ek uit hierdie wêreld uitgaan, sal ek weer sonder enigiets weggaan. Wat ek het, het die Here vir my gegee. Die Here het dit ook weer weggevat. Die Here moet geprys word!” Ten spyte van alles wat gebeur het, het Job nie verkeerd gedoen nie. Hy het God ook nie blameer vir wat gebeur het nie.