Die Jode kap toe vinnig terug: “Ons is die nageslag van Abraham. Niemand kon nog ooit ons vryheid van ons wegneem nie. Waar kom jy daaraan dat ons nou skielik vry moet word?” “Dis eenvoudig: as jy sonde doen, is jy tog ’n slaaf; die sonde se slaaf, nie waar nie?” sê Jesus. “’n Slaaf is nie ’n permanente lid van die familie nie. ’n Seun bly egter altyd ’n kind in die gesin. Die seun is dus die een wat vir altyd julle vryheid in die gesin kan waarborg, want hy is altyd daar. As die Seun van God dus sê julle is vry, is julle regtig in God se gesin vry. Natuurlik weet Ek dat julle biologies die nageslag van Abraham is. Wie weet dit nou nie? Maar tog wil julle My doodmaak. Dit sê iets van julle geestelike vader. Julle wil mos nie aanvaar wat Ek vir julle sê nie. Intussen vertel Ek julle net wat Ek by die hemelse Vader gesien het. Julle moordgedagtes bewys egter alte duidelik dat Satan julle vader is. ’n Kind luister mos na wat sy pa vir hom sê.” Die Jode sê toe weer: “Abraham is ons pa!” “Die werklike nageslag van Abraham sal beslis die voorbeeld volg wat Abraham gestel het. Maar julle wil My sommer doodmaak omdat Ek eerlik is en vir julle die waarheid vertel. En dit is nogal die waarheid wat Ek by God self gehoor het. Abraham sou nooit soos julle gemaak het nie. “Maar julle tree presies op soos julle regte pa sou optree,” sê Jesus. Hulle snap toe waarop Jesus eintlik sinspeel: “Ons is g’n buite-egtelike kinders nie! Ons het net een Vader en dit is God self.” Daarop antwoord Jesus toe: “As God julle Vader was, sou julle lojaal teenoor My wees en My liefhê. Kyk, hier staan Ek voor julle: Ek kom van daardie selfde God af. En Ek het nie sommer op my eie hier aangestap gekom nie. Nee, God self het My gestuur! Laat Ek vir julle sê waarom die dinge wat Ek sê nie vir julle sin maak nie. Julle is soos dowe mense. Nie ’n woord sink by julle in nie, want julle wil nie behoorlik luister na wat Ek sê nie. En daar is ’n goeie rede voor. Die duiwel is julle pa! Al wat julle wil doen, is om na julle pa te luister. Wat hy sê, doen julle. Die duiwel stel net daarin belang om mense se lewe te vernietig en hulle dood te maak. Hy was nog altyd so. Hy gee ook niks om vir die waarheid nie. Al waarin hy belangstel, is om te lieg en te bedrieg. Dit is hoe hy is. As hy sy mond oopmaak, lieg hy. ’n Mens kan niks glo wat hy sê nie. Ja-nee, hy is die oorsaak van al die bedrog en leuens in hierdie wêreld. Maar kyk nou wat gebeur met My. Ek kom praat die waarheid met julle, maar julle sê Ek lieg. Dit wys julle net! Ek daag julle uit! Bewys dat Ek een voet verkeerd gesit het, ja, dat Ek iets gedoen het waarvan God nie sal hou nie. Toe, kan julle? Nou goed, as Ek dan die waarheid praat, waarom wil julle nie aanvaar wat Ek sê nie? Ek kan maar net aan een rede dink: ’n kind van God sal mos graag na God luister. Julle wil nie na My luister nie, wat maar net kan beteken dat julle nie kinders van God is nie.”
Lees Johannes 8
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Johannes 8:33-47
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's