Johannes 6:51-57

Johannes 6:51-57 DB

Ek is daardie brood uit die hemel wat leef, maar ook lewe gee. As iemand dus van hierdie brood eet, sal hy tot in ewigheid leef. Die brood wat Ek gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense in die wêreld ook die ewige lewe kan hê.” Dit het die Jode onder mekaar aan die stry gesit: “Hoe kan hy sy eie liggaam vir ons te ete gee?” Maar Jesus het dit net nog sterker gestel: “Julle kan net die ware lewe in julle hê as julle die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink. Ek herhaal, wie my liggaam eet en my bloed drink, het die lewe wat nooit sal ophou nie. Met die wederkoms sal Ek hom liggaamlik laat opstaan. Weet julle wat stil ’n mens se geestelike honger en dors? Dít: my liggaam is die ware geestelike voedsel en my bloed die ware geestelike drank. Dit werk so: as iemand my liggaam eet en my bloed drink, ontstaan daar ’n geestelike eenheid tussen ons. Vir so ’n persoon word Ek die fokus van sy lewe en Ek is ook altyd by hom. Die Vader, wat My gestuur het, het die lewe. Hy het aan My die lewe gegee en daarom lewe Ek. Net so sal Ek dieselfde goddelike lewe aan die persoon gee wat My ‘eet’.