Johannes 2:13-25

Johannes 2:13-25 DB

Jesus is toe Jerusalem toe vir die paasfees wat net om die draai was. Die Jode het hierdie fees elke lente gevier. Daar aangekom, is Jesus reguit tempel toe. Op die plein wat aan die tempelgebou grens, was dit die ene bedrywigheid. Die plek was vol handelaars wat beeste, skape en duiwe aan die mense verkoop het om as offers te gebruik. Oral het tafels gestaan waar ’n mens vreemde geld kon omruil vir geld wat vir tempelbelasting gebruik kon word. Jesus maak toe ’n sweep uit toue en jaag die hele spul uit die tempelplein uit, skape en beeste inkluis. Ook die mense wat met die geld gewerk het, het deurgeloop. Jesus het hulle tafels omgegooi en hulle geld die wêreld vol gestrooi. Vir die duiweverkopers het Hy gesê: “Vat hierdie goed weg! Hoe durf julle my Vader se huis in ’n mark verander!” Skielik onthou sy volgelinge wat daar geskrywe staan: “Liefde en ywer vir u huis brand in my soos ’n verterende vuur.” Die Jode kap toe terug: “Wie of wat gee jou die reg om hierdie dinge aan te vang? Kan jy enigiets buitengewoons doen om te bewys dat God jou die reg gee om dit te doen?” “Wel,” sê Jesus vir hulle, “breek die laaste klip van hierdie tempel af en in net drie dae sal Ek dit weer opbou.” “Wat! Dit het 46 jaar se harde werk gekos om hierdie tempel te bou! En jy wil dit sommer in drie dae doen!” sê die Jode dadelik. Jesus het egter met “hierdie tempel” na sy eie liggaam verwys. Toe Hy later uit die dood opgewek is, het sy volgelinge hierdie woorde van Hom baie goed onthou. Hulle het besef dat wat Hy gesê het, waar is, soos hulle ook geglo het wat in die Skrif geskryf staan. Jesus was vir die paasfees in Jerusalem. Baie mense het daar die wonderlike dinge gesien wat Hy gedoen het. Hulle het besef dat hierdie dinge tekens is van iets baie groters. Daarom het hulle in Jesus begin glo. Jesus het egter geweet hoe onbetroubaar mense is. Niemand hoef dit vir Hom te vertel het nie. Daarom het Hy hulle nie sommer vertrou nie.