Johannes 19:23-42

Johannes 19:23-42 DB

Die soldate wat Jesus gekruisig het, vat toe Jesus se klere. Hulle pak dit in vier hopies; ’n hopie vir elkeen wat gehelp het. Die kledingstuk wat Jesus gedra het, was uit een stuk materiaal gemaak. Dit was nie stukke lappe wat aanmekaargewerk was nie. Die soldate bespreek toe die saak: “Dit sal darem ’n groot skade wees om hierdie kledingstuk in stukke te skeur. Kan ons nie liewer lootjies trek nie?” So gesê, so gedaan! Sonder dat hulle dit besef het, het hulle maar net gedoen wat die Skrif lankal gesê het hulle sou doen: “Hulle het my klere onder mekaar uitgedeel. Vir my kledingstuk het hulle lootjies getrek.” Dit is presies wat hulle gedoen het. Die soldate was nie die enigste mense by die kruis nie. Jesus se ma en sy tannie Maria (wat met Klopas getroud was) en Maria Magdalena was ook daar. Toe Jesus sy ma daar sien staan saam met sy volgeling vir wie Hy ’n baie spesiale plek gehad het, sê Hy: “Ma, laat hy van nou af jou seun wees.” Hy kyk toe vir sy volgeling: “My vriend, laat sy van nou af jou ma wees.” Van toe af het Maria by hom gaan bly en hy het haar versorg. Jesus was nou tevrede dat Hy alles gedoen het wat Hy moes doen. Hy sê toe: “Ek is dors.” (Die Skrif het mos gesê dat Hy so sou sê.) Naby die kruis het iemand se bottel suur wyn gelê. Die mense vat toe die wyn en gooi daarvan oor ’n spons. Met ’n takkie wat hulle van ’n hisopplant afgebreek het, lig hulle die spons toe tot by Jesus se mond. Jesus het sy lippe en mond daarmee natgemaak. Hy sê toe: “Nou het Ek alles gedoen wat Ek moes doen.” Sy kop het vooroor geval en Hy het sy laaste asem uitgeblaas. Dit het op die Vrydag gebeur. Mense was besig om alles reg te kry vir die paasfees. Dit was vir hulle ’n baie belangrike dag, want daardie jaar het die fees en die sabbat saamgeval. Die Jode se godsdienstige reëls het dit verbied dat Jode op die sabbat nog aan ’n kruis mag hang. Hulle is toe na Pilatus toe en het hom gevra om die mense wat aan die kruis gehang het se bene te breek. Die skok sou help dat hulle gouer doodgaan. Dan kon hulle hulle van die kruis afhaal voor die sabbat begin. Pilatus het gesê hulle kon dit laat doen. Die soldate het toe die bene gebreek van die twee mans wat saam met Jesus daar gehang het. Toe hulle by Jesus kom, sien hulle dat Hy klaar dood was. Dit was toe nie nodig om sy bene te breek nie. Om seker te maak dat Jesus dood was, steek een van die soldate Jesus in sy sy met ’n spies. Daar het bloed en water uit die wond geloop. Dit is nie sommer stories dié nie. Dit het regtig gebeur. Daardie man het dit met sy eie oë gesien. Hy praat die waarheid en sal nie lieg nie. Julle kan maar glo wat hy vertel. Die Skrif het mos lankal gesê dit sou gebeur. Luister net: “Hulle sal nie ’n enkele been van Hom breek nie,” staan daar op een plek, en op ’n ander plek: “Hulle sal kyk na die Een wat hulle met die spies gesteek het.” Josef wat uit Arimatea gekom het, was ook ’n volgeling van Jesus. Hy het dit egter probeer stilhou, want hy was bang dat die Jode hom iets sou aandoen as hulle dit uitvind. Toe alles verby was, is hy na Pilatus toe. Hy vra Pilatus toe reguit of hy maar Jesus se liggaam kon gaan begrawe. (As niemand die lyke gevat het nie, het die soldate dit gewoonlik sommer eenkant in ’n vlak graf gegooi.) Pilatus het vir Josef gesê hy kon dit maar doen. Hy het toe Jesus se liggaam van die kruis afgehaal en weggevat. Nikodemus het ook bygekom. (Dit was mos hy wat destyds in die nag na Jesus toe gekom het.) Hy het ’n klomp mirre en aalwyn by hom gehad om Jesus se liggaam vir die graf reg te kry. Altesaam het dit so 33 kilogram geweeg. Hulle het Jesus se liggaam mooi in linne toegedraai. Die linne was deurweek van die mirre en aalwyn. Dit is wat die Jode destyds gedoen het as hulle iemand begrawe het. Jesus se kruis het in ’n tuin gestaan. In die tuin was daar ook ’n graf wat pas klaar uit die rots gekap was. Dit het soos ’n kamer gelyk. Hulle het Jesus net daar begrawe. Hy was die eerste een wat in dié grafkamer begrawe is. Dit was gerieflik en naby, want die tyd was min. Hulle moes ook nog alles vir die Jode se fees gaan regkry voor die son gesak en die sabbat begin het.