Johannes 18:1-12

Johannes 18:1-12 DB

Jesus het klaar gebid. Van die plek waar hulle saamgeëet het, is Jesus-hulle na ’n tuin toe waar die feesgangers graag gekamp het. Die tuin het aan die ander kant van die Kedronspruit gelê. Die spruit het al langs Jerusalem se stadsmuur af geloop. Jesus het graag saam met sy dissipels na dié tuin toe gegaan. Daarom het Judas, wat teen Jesus gedraai het, geweet waar om Hom te gaan soek. Judas is toe saam met ’n hele klomp gewapende mans na die tuin toe. Behalwe die soldate was daar ook ’n spul polisiemanne wat vir die hoofpriesters en Fariseërs gewerk het. Hulle was goed bewapen. Met fakkels, lanterns en ’n spul wapens het hulle Jesus gaan soek. Jesus was nie verbaas nie. Hy het geweet wat op Hom wag. Toe die klomp soldate by die tuin aankom, stap Jesus na hulle toe. “Vir wie soek julle?” vra Hy. “Jesus wat van Nasaret af kom,” sê hulle. “Wel, dit is Ek,” antwoord Hy. (Judas het ook so ewe tussen die klomp soldate gestaan.) Toe die soldate hoor wat Jesus sê, het hulle verskrik teruggedeins en oor mekaar geval. Jesus herhaal toe sy vraag: “Vir wie soek julle?” “Jesus van Nasaret,” sê hulle weer. “Maar Ek het dan vir julle gesê dis Ek. As julle My wil hê, los hierdie ander dan uit.” So het dit wat Jesus beloof het, waar geword. Hy het mos gesê dat Hy daarvoor sou sorg dat nie een van hulle na wie Hy moes kyk, iets oorkom nie. Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy pluk dit toe uit en kap na een van die mense wat vir die hoëpriester gewerk het. Sy naam was Malgus. Met dié tref hy Malgus teen die regteroor en sny dit morsaf. Jesus keer Petrus toe dadelik. “Nee, Petrus, bêre jou swaard! My Vader wil hê Ek moet hierdie pad loop. Wil jy miskien hê Ek moet ongehoorsaam wees en dit nie loop nie?” Die offisier, met sy soldate en die Joodse polisie, het Jesus gegryp en Hom geboei.