Johannes 11:17-44

Johannes 11:17-44 DB

Toe Jesus-hulle in Betanië aankom, hoor Hy dat Lasarus al vier dae tevore begrawe is. Daar was nog ’n klomp mense by Marta en Maria se huis om hulle te troos. Toe die mense vir Marta kom sê dat Jesus op pad is, is sy dadelik uit na Hom toe. Maria het in die huis bly sit. “Here,” begin Marta sommer dadelik toe sy Hom sien. “Waar was U al die tyd? As U betyds hier was, kon U nog my broer gesond gemaak het. Dan het hy nou nog geleef. Tog het ek al die tyd aan een ding bly vashou: ek weet God sal na U luister as U Hom iets vra.” Jesus stel haar toe gerus: “Moenie bekommerd wees nie. Jou broer sal weer lewendig word.” “Ek weet dit,” sê Marta. “Met die finale oordeel sal God ons almal mos weer lewendig maak.” “Dit is nie wat Ek bedoel nie,” sê Jesus. “Ek is die Een wat mense laat opstaan uit die dood en aan hulle die lewe gee wat nooit ophou nie. “As iemand waarlik ’n Christen is, kan hy mos nooit geestelik doodgaan nie. Al sterf sy liggaam, het hy nog die ewige lewe. Wie op My vertrou en die ewige lewe het, gaan nooit regtig dood nie. Aanvaar jy dit wat Ek vir jou sê, Marta?” “Natuurlik, Here,” sê sy dadelik. “Ek twyfel nie een oomblik dat U die Seun van God is nie. U is die Een vir wie God spesiaal aangestel het om die mense te kom red.” Marta is toe daar weg. Sy het stilletjies vir Maria gaan roep. “Die Here wag vir jou. Hy wil graag met jou praat.” Toe Maria dit hoor, spring sy op en loop haastig na Jesus toe. Jesus het buite die dorp vir haar gewag. Dit was op dieselfde plek waar Hy met Marta gepraat het. Die Jode in die huis het nie geweet waarom Maria so vinnig daar weg is nie. Hulle is toe agterna om haar te troos. Hulle het gedink sy voel hartseer en is daarom graf toe om daar te gaan huil. Toe Maria Jesus kry, gryp sy net sy voete vas. “Here,” stamel sy, “as U betyds hier was, sou my broer vandag nog geleef het.” Toe Jesus haar snikke hoor en ook hoor hoe die Jode huil wat saam met haar was, het Hy ’n knop in sy keel gekry. Hy het baie hartseer gevoel. “Waar is hy begrawe?” vra Jesus. “Kom saam, Here, ons gaan wys U,” sê hulle. Jesus kon sy trane nie meer keer nie. Hy het gehuil. “Kyk net! Hy moes Lasarus darem baie liefgehad het!” sê party Jode toe, terwyl ander sê: “Ons wonder darem. Julle weet, Hy het mos ’n blinde laat sien. Kon Hy nie dalk iets gedoen het sodat Lasarus nie doodgegaan het nie?” Jesus was nog steeds baie hartseer toe Hy by die graf kom. Lasarus se lyk was in ’n soort grot begrawe. Die ingang was met ’n groot rots toegemaak. “Vat weg die rots,” sê Jesus. Marta probeer nog keer: “Asseblief, Here! Hy lê al dae daar. ’n Mens kan al die liggaam ruik.” “Marta, Marta!” sê Jesus vir haar. “Vergeet jy so gou? Ek het netnou nog vir jou gesê dat as jy My vertrou, jy sal sien wat God regtig kan doen.” Hulle vat toe die rots weg. Jesus maak sy oë toe en bid: “Vader, dankie dat U altyd luister as Ek iets vra. Hier staan baie mense rond. Ter wille van hulle praat Ek so. Wanneer hulle My hoor bid en sien wat gebeur, sal hulle begin besef dat Ek van U af kom.” Toe roep Jesus hard uit: “Lasarus, kom uit!” Daar verskyn Lasarus toe in die ingang van die graf. Oomblikke tevore was hy nog dood. Nou staan hy daar, lewendig! Hy was van kop tot tone in linnelappe toegedraai. Selfs die lap wat oor sy gesig gesit is, was nog daar. Jesus sê toe: “Haal die lappe van hom af, sodat hy self hier kan wegstap.”