Jeremia 37

37
1Sedekia was die seun van Josia. Koning Nebukadnesar van Babel het hom as koning van Juda aangestel in die plek van Jojagin, wat ’n seun van Jojakim was. 2Maar nie Sedekia, sy amptenare of die gewone mense van die land het hulle enigsins gesteur aan wat die Here deur Jeremia gesê het nie. 3In elk geval, koning Sedekia het twee mans na Jeremia toe gestuur. Hulle was Jukal, ’n seun van Selemja, en Sefanja, ’n seun van Maäseja. Sefanja was ’n priester. Hulle moes vir Jeremia vra om namens hulle tot die Here te bid. 4Jeremia was toe nog nie in die tronk opgesluit nie. Hy kon nog kom en gaan soos hy wou tussen die mense.
5Die leër van die farao het uit Egipte opgetrek. In dié stadium het die Babiloniese leër Jerusalem omsingel en van die buitewêreld afgesny. Maar toe hulle van die Egiptiese opmars hoor, het hulle van Jerusalem af teruggetrek.
6Die Here die God van Israel het met Jeremia gepraat. 7Hy het gesê: “Jeremia, die koning van Juda het jou mos na My toe gestuur om te kom uitvind wat gaan gebeur. Sê vir hom die leër van die farao is op pad terug Egipte toe. Sy plan was eintlik om julle te kom help. 8Maar omdat hulle nou terugtrek, sal die Babiloniërs terugkom en weer teen die stad kom veg. Hulle sal Jerusalem inneem en afbrand. 9Sê vir hulle Ek sê: Moenie julleself flous en dink die Babiloniërs sal wegbly nie. Hulle kom vir seker terug. 10Selfs al kry julle dit reg om die Babiloniese leër te verslaan sodat net ’n paar gewondes in hulle tente oorbly, dit sal niks help nie. Hulle sal doodgewoon optrek en Jerusalem aan die brand kom steek.”
Jeremia word opgesluit
11Die leër van die Babiloniërs het teruggetrek van Jerusalem af omdat die leër van die farao op pad was. 12Jeremia wou toe weggaan van Jerusalem af na die grondgebied van Benjamin. Hy wou gaan kyk het na die stuk grond daar wat sy erfdeel sou wees. 13Maar toe Jeremia by die Benjaminhek wou uitgaan, het ’n wag met die naam Jirija hom gevang en beskuldig: “Jy wil oorloop na die Babiloniërs toe!” Jirija was ’n seun van Selemja en ’n kleinseun van Gananja.
14Jeremia het hom geantwoord en gesê: “Dit is nie waar nie! Ek het geen planne om na die Babiloniërs toe oor te loop nie.” Maar Jirija wou nie na hom luister nie. Hy het Jeremia gearresteer en hom na die senior amptenare toe gebring. 15Hulle was woedend vir Jeremia en het hom laat slaan. Daarna het hulle hom in die sekretaris Jonatan se huis laat opsluit. Sy huis is in ’n tronk verander. 16Jeremia is in ’n ondergrondse sel gesit. Daar het hy ’n baie lang tyd gebly.
17In ’n later stadium het koning Sedekia vir Jeremia in die geheim na sy paleis laat kom. Die koning wou by hom weet: “Het jy enige boodskappe van die Here vir my, Jeremia?”
Jeremia het hom geantwoord: “Ja, ek het ’n boodskap vir u! U sal aan die koning van Babel oorgegee word.” 18Toe vra Jeremia vir koning Sedekia: “Wat het ek verkeerd gedoen? Wat het ek aan u, u amptenare of aan die mense gedoen dat julle my in die tronk gegooi het? 19Waar is daardie profete nou wat vir u gesê het dat die koning van Babel nie teen u of hierdie land sal optrek nie? 20U Majesteit, ek smeek u. Luister asseblief na my nederige versoek! Moet my asseblief nie na Jonatan se huis toe terugstuur nie. Ek sal daar doodgaan.”
21Koning Sedekia het toe opdrag gegee dat hulle Jeremia nie moes terugstuur na die tronk waar hy eers was nie. Hulle het hom na die gedeelte van die paleis gevat waar die wagte gebly het. Die koning het ook opdrag gegee dat hulle elke dag vir Jeremia ’n brood moes gee wat van die bakkery af kom. Hulle moes daarmee aanhou solank daar nog brood in die stad te kry was. So is Jeremia dan in die wagte se deel van die paleis aangehou.

Tans Gekies:

Jeremia 37: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan