Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel. Hy sê vir al die mense wat Hy uit Jerusalem uit laat wegvat het na Babel toe: “Bou vir julle huise in Babel om in te bly. Maak vir julle tuine en eet die kos wat uit die tuine kom. Julle moet ook trou en kinders hê. Sorg ook dat julle kinders maats kry om mee te trou. Mag hulle vir julle baie kleinkinders gee. Werk daaraan dat julle getalle meer word en nie minder nie. Doen ook julle deel dat daar vrede en voorspoed in Babel sal wees. Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad waar julle aangekom het toe julle uit julle land weggevat is. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.” Die Here wat die God van Israel is, sê: “Moenie toelaat dat die profete en die waarsêers wat daar by julle is, julle bedrieg nie. Julle moet julle ook nie steur aan hulle drome nie. Hulle vertel vir julle leuens en dan sê hulle nog dat hulle namens My praat. Ek het hulle beslis nie gestuur nie!” sê die Here. Die Here sê: “Die waarheid van die saak is, julle sal vir 70 jaar in Babel wees. Maar as die tyd verby is, sal Ek begin om al die goeie beloftes wat Ek gemaak het, waar te laat word. Ek sal julle na julle land toe laat terugkom. Ek weet wat Ek vir julle in gedagte het. Ek beplan dat goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. Julle sal na My roep en kom bid. Ek sal na julle luister. As julle met alles in julle na My soek, sal julle by My uitkom. Julle sal julle doel bereik deurdat Ek die taal van julle hart sal verstaan. Ek verstaan wat julle graag wil hê. Ek sal sorg dat julle nie langer as gevangenes in ’n ander land sal bly nie. Ek sal julle wegvat tussen al die nasies waar julle nou is. Dit is so dat Ek die rede is dat julle daar in die vreemde sit, maar Ek sal julle na julle eie land toe terugbring,” sê die Here.
Lees Jeremia 29
Deel
Vergelyk alle weergawes: Jeremia 29:4-14
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's