Jeremia 22

22
’n Boodskap vir die konings van Juda
1Die Here het vir my gesê: “Gaan na die paleis en praat self met die koning van Juda. Sê vir hom: 2Koning van Juda, u is een van koning Dawid se opvolgers. Die Here het ’n boodskap vir u, u amptenare en die inwoners van Jerusalem. Luister ’n bietjie daarna. 3Die Here sê: Julle moet eerlik en regverdig optree. Doen wat reg is. Verder moet julle ook mense help wat deur ander bedrieg is. Beskerm hulle teen hierdie bedrieërs. Julle mag ook nie mense wat nie van julle eie mense is nie of weeskinders en weduwees sleg behandel nie. Hou ook op om onskuldige mense te vermoor. 4As julle gehoorsaam is en nie hierdie verkeerde dinge doen nie, sal daar altyd iemand uit Dawid se nageslag koning in Jerusalem wees. Die konings sal in koetse en op perde deur die paleis se hekke ry. Amptenare en die mense wat hulle help, sal saam met die konings ry. 5Maar as julle hierdie waarskuwing ignoreer, so waar as wat Ek die Here is, sal hierdie paleis ’n bouval word.”
Die lot van die paleis van Juda
6Die Here sê ook oor die paleis: “Gilead is ’n vrugbare plek en die Libanonpieke staan hoog uit. So is die paleis van die koning van Juda vir My. ’n Plek waarop Ek trots is. Maar Ek sal die paleis verwoes en maak soos stede waarin daar geen enkele mens bly nie. 7Ek sal mense spesiaal aanstel wat sal kom en die plek met hulle gereedskap aftakel. Hulle sal die pragtige sederbalke uitruk en in die vuur gooi. 8Baie mense van ander nasies sal hier verbygaan en vir mekaar sê: ‘Hoekom het die Here ’n groot stad soos hierdie verwoes?’ 9Dan sal hulle antwoord: ‘Omdat hulle die ooreenkoms tussen hulle en die Here verbreek het. Hy het belowe dat Hy hulle God sou wees en hulle sou sy mense wees wat aan Hom behoort. Maar hulle het voor ander gode gebuig en hulle begin aanbid.’”
’n Boodskap oor Joahas
10Moenie hartseer oor koning Josia wees nie. Moet ook nie oor hom huil nie. Huil liewer oor koning Joahas wat deur sy vyand uit sy land uit weggevat is. Hy sal nooit weer terugkom nie. Sy geboorteland sal hy nooit weer sien nie. 11Eers was koning Josia koning. Hy is toe opgevolg deur sy seun Joahas. Joahas is gevang en uit sy land weggevat na ’n ander land. Die Here sê van hom: “Hy sal nooit weer terugkom nie. 12Hy sal doodgaan in die land waar hy ’n gevangene is en sal sy geboorteland nie weer sien nie.”
’n Boodskap oor Jojakim
13Die Here sê: “Die toekoms lyk sleg vir koning Jojakim. Hy bou sy paleis met mense wat hy dwing om vir hom te werk. Dan bou hy ook nog ’n boonste vertrek op hierdie onmenslike manier. Hy betaal ook nie die mense wat vir hom werk nie. 14Hy sê: ‘Ek sal vir my ’n spoggerige paleis met groot kamers en baie vensters bou. Die vertrekke beslaan ek met sederhout en verf dit rooi.’ 15Die vraag is: Maak dit van jou ’n beter koning as jou paleis mooier is en meer sederhout as ander het? Hoekom was jou pa, Josia, so ’n suksesvolle koning? Dit was omdat hy soos ’n normale mens gelewe het en altyd eerlik en regverdig was. 16Hy het altyd gesorg dat arm en behoeftige mense regverdig behandel word. Daarom het dit met hom goed gegaan. Deur dinge so te doen het hy gewys hy verstaan wat vir My belangrik is. 17Maar nie jy nie, Jojakim! Jy wou net altyd kyk wat jy in die hande kan kry om ryk te word. Jy gee nie eens om of dit op ’n oneerlike manier gebeur nie. Jy het onskuldige mense vermoor. Verder het jy mense uitgebuit wat arm is. Ander het jy afgepers.”
18Daarom sê die Here oor koning Josia se seun Jojakim: “Sy familie sal nie geskok uitroep en oor hom huil nie. Die mense van Juda sal ook nie oor hulle koning treur nie. 19Hy sal soos ’n donkie begrawe word. Sy lyk sal by Jerusalem uitgesleep word en buite die stad gelos word.”
Die Here se boodskap vir die koningin-moeder
20“Huil, want almal op wie jy gereken het om julle te help, is weg. Gaan roep maar na hulle in Libanon. Gaan na Basan en skree hard. Gaan roep na hulle van die berge van Moab af. Dit sal niks help nie, want hulle is almal verpletter. 21Toe dit met jou goed gegaan het, het Ek jou probeer waarsku, maar jy het geweier om te luister. Van jou kleintyd af al was dit jou houding om nie na My te luister nie. 22Nou sal al die mense wat jou altyd gehelp het, verdwyn asof die wind hulle weggewaai het. Jou vriende op wie jy gereken het, sal gevang en weggevat word. Jy sal in die skande kom omdat jy so baie verkeerde dinge gedoen het. Ja, jy sal verneder word. 23Dit mag vir jou baie lekker wees om in ’n paleis te bly wat met sederhout mooigemaak is. Maar dit sal nie lank so aanhou nie. Binnekort sal jy van angs en vrees gil. Dit sal net so voel soos ’n vrou se geboortepyne.”
’n Boodskap vir Jojagin
24Die Here het vir Jojagin, die seun van koning Jojakim van Juda, gesê: “So seker as wat Ek die lewende God is, Ek sal van jou ontslae raak. Al is jy soos ’n seëlring aan my vinger, Ek sal jou afpluk. 25Ek weet jy is bang vir koning Nebukadnesar van Babel en sy mense. Hulle wil jou graag doodmaak. Ek sal jou in hulle hande laat beland. 26Ek sal jou en jou ma uit Juda verban na ’n land waar nie een van julle twee gebore is nie. Daar sal julle doodgaan. 27Julle sal nooit weer na julle eie land waar julle so graag sal wil wees, kan terugkom nie.”
28Hoekom is hierdie man Jojagin soos ’n stukkende kleipot wat niemand dink enigiets werd is nie? Hoekom sal hy en sy kinders uit hulle eie land weggejaag word na ’n vreemde land wat hulle nie ken nie? 29Juda, jy en jou mense moet luister na die boodskap van die Here! 30Dit is wat die Here sê: “Maak ’n aantekening daarvan dat hierdie man Jojagin nie kinders gehad het nie. Ignoreer dit dat hy wel kinders het. Julle weet, nie een van sy kinders sal koning van Juda word nie. Dawid se koningslyn sal nie aangaan nie. Jojagin het misluk!”

Tans Gekies:

Jeremia 22: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid