Jakobus 3:1-5

Jakobus 3:1-5 DB

My vriende, daar moenie te veel van julle wees wat die ander in die gemeente wil leer nie. Dit is ’n verantwoordelike werk. God stel strenger eise aan sulke mense. Wanneer Hy ons finaal oordeel, sal Hy dié wat ander geleer het volgens daardie strenger eise beoordeel. Ons almal maak foute en sê verkeerde dinge. As iemand nooit ’n skewe woord sê nie, is hy volmaak. Hy sal geen probleem hê om ook in ander dinge wat hy doen, reg op te tree nie. Dit werk soos die stuurwiel waarmee ek ’n hele kar beheer. As ek die stuurwiel draai, draai die hele kar. Of kom ons neem ’n skip as voorbeeld. ’n Skip is massief, maar die roer waarmee die kaptein die hele skip stuur, is baie klein. Net so is die tong maar baie klein in vergelyking met die res van die liggaam. As ’n mens egter begin praat, kom jy agter wat daar regtig in die tong steek. Die tong is soos ’n klein vuurhoutjie wat ’n groot bos aan die brand kan steek. As jy lelik praat, vloek, skinder of so iets, hoef jy niks anders te doen om te wys hoe sleg jy is nie. Deur net na die tong te luister sien ’n mens sommer hoe sleg die hele mens is. Dit beduiwel jou hele lewe en alles wat jy doen. Dit help nie eintlik eens om goeie dinge te probeer doen as jou tong lelike dinge sê nie.