Jesaja 35:3-10

Jesaja 35:3-10 DB

Hierdie nuus is bedoel om mense wat moedeloos geword het, op te beur; om dié wat voel dat hulle net nie verder kan nie omdat alles net te veel geword het, moed in te praat sodat hulle met nuwe oë na die toekoms kan kyk. Gaan sê vir dié wat bang is hulle moet op die Here vertrou en hulle nie oor alles bekommer nie. Die Here is op pad om hulle vyande die les van hulle lewe te leer, en wanneer Hy daarmee klaar is, sal Hy sy mense se omstandighede verander. Van die gevolge hiervan sal wees dat blinde mense sal kan sien en dat dowe mense sal kan hoor. Die verlamde mense wat weer kan loop, sal rondhuppel en spring soos wildsbokke. Mense wat voorheen stom was, sal sing van blydskap. Die woestyn sal ’n paradys word met volop fonteine en riviere. Die droë modderpanne wat so deur die son gebak is dat alles verskroei en uitgedroog was, sal in waterryke mere verander. Oral sal fonteine uit die grond uit opborrel waarby mense sou kon rus en water drink. Waar daar voorheen net sand en klippe was waar die jakkalse hulle gate kon grawe en waar geen ander mens of dier gekom het nie, gaan die hele omgewing verander. Daar sal soveel water wees dat daar watergras, riete en biesies sal groei. Daar sal ’n grootpad deur die gebied loop wat voorheen ’n woestyn was. Hierdie pad is bedoel vir mense wat ’n verhouding met die Here het en wat reg lewe. Mense wat God nie ernstig opneem nie, sal nooit die reg hê om hierdie pad te gebruik nie. Daar sal nie gevare op die pad wees nie, want die Here het dit spesiaal vir sy kinders gebou sodat hulle veilig en maklik by Hom kan uitkom. Hierdie kinders van wie daar gepraat word, is die mense wat deur die Here vrygekoop is van hulle ou slawelewe. Hulle sal vrolik en opgeruimd met hierdie pad na Jerusalem toe terugkom. Hulle hartseer en swaarkry sal iets van die verlede wees.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid