God het beloof dat sy mense eendag vir ewig saam met Hom sal rus. Dit geld ook vir ons. Ons moet seker maak dat julle almal dit uiteindelik sal haal. Ons het ook die boodskap van God se redding gehoor, net soos die Israeliete van ouds. Hulle het hulle egter nie daaraan gesteur nie, en daarom was dit niks vir hulle werd nie. Hulle het dit gehoor, maar wou dit nie glo nie. Dit is net ons wat op God vertrou en sy boodskap glo wat eendag vir ewig saam met God sal rus. God self het mos gesê: “Dit het My kwaad gemaak en daarom het Ek gesê: ‘Hulle sal nooit voel hoe dit is om vir ewig saam met My te rus nie.’ En Ek sal nooit van plan verander nie.”
Hierdie plek waar ons vir ewig saam met God sal rus, is lankal klaar, want alles wat God gedoen het, het Hy klaargemaak toe Hy die wêreld gemaak het. Iewers staan mos oor die sewende dag geskryf: “Op die sewende dag het God gerus toe Hy al sy werk klaar gedoen het.” Maar daar staan tegelyk ook dat mense wat nie na God wou luister nie, nie vir ewig saam met God sal rus nie. Hoe moet ons dié twee uitsprake verstaan? Twee dinge staan vas: daar is nog mense wat vir ewig saam met God sal gaan rus, maar daar is ook mense wat nie vir ewig saam met God sal rus nie. Dit is daardie mense wat wel God se boodskap gehoor het, maar nie wou doen wat Hy van hulle gevra het nie.
Maar God het die mense nog ’n kans gegee. Daarom het Hy nog ’n dag, wat Hy “vandag” noem, gegee. Hy het lank daarna weer deur Dawid daaroor gepraat: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, moet julle Hom nie ignoreer nie.”
Hierdie rus wat God aan mense beloof het, is nie die rus wat Josua vir die Israeliete gegee het toe hy hulle in Kanaän ingelei het nie. Dan sou God mos nie jare later deur Dawid weer van ’n ander dag (die “vandag”) gepraat het nie. Vir God se mense wag daar dus ’n spesiale rus soos God op die sewende dag gerus het. Iemand wat vir ewig saam met God sal rus, sal net soos God rus nadat Hy alles gemaak het. Ons moet nie die voorbeeld van die ou Israeliete volg en by God in die moeilikheid beland soos hulle nie. Hulle wou mos nie na God luister nie. Ons moet egter ons uiterste bes probeer om seker te maak dat ons vir ewig saam met God sal gaan rus.
Wat God sê, is nie maar net dooie woorde nie. Nee, wat Hy sê, gebeur en daar is geen keer aan nie. Sy woorde is ook nie oppervlakkig nie. Soos ’n skerp mes diep kan sny, so sny dít wat God sê tot diep binne-in jou: ja, tot daar waar jy gedink het jy dinge kan wegsteek. Wat jy dink en hoe jy oor dinge voel, kom alles onder die soeklig van wat God sê. Jy sal nie kan wegkom nie.
God weet alles wat in die wêreld aangaan. Net mooi niks kan vir Hom weggesteek word nie. Hy sien en weet alles asof dit voor Hom op ’n tafel uitgepak is. So sal ons ook voor Hom moet staan en antwoorde gee oor wat in ons lewe aangaan.
Ons bely dat ons God vertrou en daaraan moet ons met albei hande styf vashou. Ons het baie goeie rede om dit te doen: Jesus, die Seun van God, is ons groot Hoëpriester wat tot by God self gegaan het. Hy sal ons saak by God behartig. Hy is nie iemand wat niks van ons weet en daarom nie simpatie met ons swakhede sal hê nie. Nee, Hy het al dieselfde pad as ons geloop en is deur dieselfde versoekings as ons, met dié verskil dat Hy nie een maal ’n fout gemaak het nie. Ons hoef dus nie bang te wees of te wonder of ons na God toe mag gaan nie. Ons kan maar gaan, want God sal baie goed wees vir ons. Wanneer ons dit nodig het, sal God vir ons meer gee as wat ons verdien en ons met sy liefde omvou.