Haggai 2:1-9

Haggai 2:1-9 DB

Op 17 Oktober van dieselfde jaar het die Here weer vir Haggai ’n boodskap vir die volk gegee. Hy het gesê: “Vra tog vir Serubbabel, Jesua en die mense wat weer in Juda kom bly het, die volgende vraag: Hoeveel is daar van julle wat die eerste tempel gesien het toe dit nog ’n pragtige gebou was? Hoe lyk die gebou nou vir julle? Totaal en al na niks!” Maar nou sê die Here vir Serubbabel dat hy en Jesua en die hele volk moed moet skep en aan die tempel moet begin werk. Die Here wat alle mag tot sy beskikking het, beloof dat hulle op sy hulp kan staatmaak. Hy sê: “Toe julle uit Egipte gevlug het, het Ek belowe dat my Gees altyd saam met julle sal wees. Daarom moet julle nie nou bang wees nie!” Die Here sê: “As die hemel, die aarde, die see en die droë grond weer op ’n keer skud en bewe, sal julle weet dat Ek by julle is. Dit sal julle daaraan herinner. Ek sal al die nasies se regerings laat ondergaan. So sal hulle kosbare skatte in die tempel beland. Ek sal hierdie huis van My ’n plek maak wat mense sal bewonder. Hulle sal aanvoel dat Ek daar is in my grootheid. Maar daar is nog iets wat julle moet weet: dit is dat al die silwer en die goud op aarde in elk geval Myne is. Mense sal in die toekoms hierdie tempel wat nuut gebou is, nog meer bewonder as die oorspronklike een. In hierdie land waar my huis staan, sal my volk vrede en voorspoed geniet. Ek sal daarvoor sorg!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid