Haggai 2:1-9

Haggai 2:1-9 AFR20

Op die een-en-twintigste dag van die sewende maand het die woord van die HERE gekom by monde van die profeet Haggai: “Sê vir Serubbabel, seun van Sealtiël en •streekgoewerneur van Juda, en vir Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester, en vir dié wat oorgebly het van die volk, ‘ Wie onder julle het oorgebly wat hierdie huis van die HERE in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En wat sien julle nou daarvan? Lyk dit nie na niks teen die vorige een nie? Daarom, hou moed, Serubbabel,’ is die uitspraak van die HERE. ‘Hou moed Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester! Hou moed, volk van die land, is die uitspraak van die HERE. Werk, want Ek is by julle, is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. Dit is die belofte wat Ek teenoor julle afgelê het toe julle uit Egipte getrek het: My Gees sal altyd in julle midde bly. Moenie bang wees nie.’ ” “ Die HERE, Heerser oor alle magte het immers gesê, ‘Nog een keer, binnekort, sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. Ek sal al die nasies laat bewe en hulle sal kom met al hulle skatte en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vul,’ sê die HERE, Heerser oor alle magte. ‘Aan My behoort die silwer en aan My behoort die goud,’ is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. ‘Die heerlikheid van hierdie huis sal groot wees, nog groter as tevore,’ sê die HERE, Heerser oor alle magte. ‘En op hierdie plek sal Ek vrede gee,’ is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid