Haggai 1:1-11

Haggai 1:1-11 DB

Die Here wou ’n boodskap aan Serubbabel en Jesua stuur en daarvoor het Hy Haggai gebruik. Serubbabel was in hierdie stadium die hoof van Juda en Jesua was die hoëpriester. Serubbabel se pa se naam was Seältiel en Josadak was Jesua se pa. Dit het gebeur op 29 Augustus 520 v.C. in die tweede jaar wat Darius koning was. Niemand het soveel mag as die Here nie. Hy sê dat die mense van Juda die tempel weer moet opbou. Hulle was gevang en uit hulle land uit weggevat na Babel toe. Nou is hulle terug in hulle land. Maar vandat hulle terug is, het hulle nog nie weer daaraan gedink om die Here se tempel te herbou nie. Daarom wil Hy hê dat Haggai ’n paar dinge vir hulle moet sê. Hy wil weet of die mense van Juda reg maak deur in hulle spoghuise te bly terwyl sy huis nog verwoes lê. Die Here sê vir die mense van Juda: “Dink mooi na oor wat op die oomblik aan die gang is. Julle het baie saad op die landerye gesaai, maar die oes wat julle ingebring het, was maar klein. Julle het wel kos om te eet, maar dit laat julle nie juis versadig voel nie. Julle het wyn om te drink, maar nie genoeg om julle tevrede te stel nie. Julle het klere om aan te trek, maar dit is nie genoeg om julle warm te maak nie. Die geld wat julle vir julle daaglikse werk kry, verdwyn ook so vinnig asof daar ’n gat in julle beursie is.” Die Here sê weer: “Dink mooi na oor wat aan die gang is. Gaan haal hout in die berge en begin om my tempel reg te maak. Ek sal baie bly wees as my huis weer reggemaak is. Dan sal die mense weer daarheen kan gaan en My daar kan dien, sê die Here. Julle het ’n groot oes verwag, maar dit het nie veel opgelewer nie. Die bietjie wat julle ingesamel het, het Ek laat verdwyn. Hoekom, dink julle, gebeur dit? vra Ek die Here wat mag het wat met niks en niemand vergelyk kan word nie. Dit is omdat my tempel nog verwoes lê terwyl julle almal besig is om aan julle eie huise te werk. Dit is julle eie skuld dat dit nie reën nie en niks wil groei nie. Dit is Ek wat droogte oor die land gebring het. Dit het ’n effek op die berge, die graanlande, die wingerde, die olyfboorde, die oeste en wat ook al uit die grond groei. Die droogte raak ook mens en dier en alles waarvoor julle gewerk het.”