Die Here het toe vir Kain gesê: “Hoekom is jy so kwaad en terneergedruk? As jy reg lewe, sal jou offer mos aanvaar word. Maar as jy nie reg lewe nie, vind jy uit dat sonde soos ’n wilde dier is wat by jou deur lê: hy lê jou die hele tyd en dophou, want hy wil jou opvreet. Jy kan hom egter oorwin.” Kain het toe vir sy broer, Abel, gesê: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle buite kom, het Kain vir Abel gegryp en hom doodgeslaan. Die Here het vir Kain gevra: “Waar is jou broer Abel?” Kain het vererg geantwoord: “Hoe moet ek nou weet? Is ek dan my broer se oppasser? Moet ek hom dag en nag oppas?” En die Here het gesê: “Wat het jy in hemelsnaam aangevang? Luister net ’n bietjie hoe skreeu jou broer se bloed. Dit roep van die bloedbevlekte aarde af na My. Jy word nou summier van die grond verban. Jy sal nooit weer van die grond kan leef nie, want jy het die grond gedwing om jou broer se bloed te drink; die bloed van jou broer wat jy doodgemaak het. Al ploeg en bewerk jy die grond, daar sal niks van kom nie. Jy sal vir altyd ’n eensame swerwer op aarde wees.” Kain het toe gesê: “My straf is te swaar. Ek kan dit hoegenaamd nie alleen dra nie. U het my vandag van die grond af verban. Ek moet wegkruip voor U. Dag vir dag sal ek rusteloos op die aarde moet rondswerf. En enigeen wat my raakloop, sal my ook wil doodmaak.” “Nee,” het die Here gesê, “dit sal nie gebeur nie. Enigeen wat vir Kain doodmaak, sal self ’n wrede dood sterf.” Die Here het toe ’n merk op Kain se voorkop gemaak. Dit moes mense afskrik om hom dood te maak. Kain het toe weggegaan, weg van sy grond en die teenwoordigheid van die Here af. Hy het gaan bly in die land Nod, duskant die tuin van Eden.
Lees Genesis 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: Genesis 4:6-16
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's