Genesis 35:2-10

Genesis 35:2-10 DB

Jakob het toe al sy huismense en werkers bymekaargeroep en gesê: “Los nou eens en vir altyd al julle vreemde gode. Was julle skoon en trek skoon klere aan. Ons gaan binnekort Bet-El toe. Daar gaan ek ’n altaar vir die Here bou, omdat Hy geluister het toe ek moedeloos was en Hy altyd saam met my op die pad was.” Almal het hulle afgode gebring asook hulle oorringe. En Jakob het al die goed gevat en dit onder die groot boom duskant Sigem begrawe. Daarna het Jakob en sy mense Bet-El toe getrek. God was by hulle, want Hy het ’n groot angs oor die omringende stede laat kom sodat hulle Jakob en sy mense in vrede Bet-El toe laat trek het. Uiteindelik het Jakob en al sy mense by Bet-El in Kanaän, ook Lus genoem, aangekom. Daar het hy ’n altaar gebou en dit “God van Bet-El” genoem. Dit was op dieselfde plek waar God hom lank gelede een aand ontmoet en met hom gepraat het. Dit was destyds toe hy vir sy broer, Esau, gevlug het. Intussen is Debora dood. Rebekka het as kind aan haar gedrink en sy was lewenslank aan Debora geheg. Hulle het Debora onder die groot eikeboom net buite Bet-El begrawe. Hulle het die boom Eik van Trane genoem. En God het weer met Jakob gepraat, net soos destyds toe hy vir sy broer gevlug het. Hy het hom geseën en vir hom gesê: “Jou naam is Jakob, maar jy sal nie meer so genoem word nie. Van nou af sal almal jou Israel noem.” Dis waar hy aan sy naam gekom het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid