Genesis 31:22-42

Genesis 31:22-42 DB

Laban het eers drie dae later van Jakob-hulle se vlug gehoor. Hy was woedend. Hy het toe ’n klomp van sy familie bymekaargekry en Jakob se spoor gevat. Sewe dae lank het hulle Jakob in die berge van Gilead agtervolg. Hulle was naderhand kort op die hakke van Jakob en sy mense. Hulle moes net inbeweeg. God het egter ingegryp en in ’n droom vir Laban, die Arameër, gesê: “Jy moet nou nie dinge te ver dryf nie. Dink mooi wat jy vir Jakob gaan sê.” Laban het Jakob ingehaal. Jakob het sy tent in die bergwêreld opgeslaan en amper by hom het Laban-hulle se kamp gestaan. Laban het na Jakob toe oorgestap en vir hom gesê: “Wat het jy aangevang? Jy het my bedrieg en my dogters weggeneem asof hulle krygsgevangenes is. Hoekom het jy alles so in die geheim gedoen? Hoekom het jy my om die bos gelei? Hoekom het jy my niks gesê nie? As ek vooraf geweet het, kon ek julle ten minste met feesmusiek, met tamboeryne en liere, laat weggaan het. Waarom het jy my nie toegelaat om my kleinkinders te groet nie? En my eie dogters totsiens te soen nie? Nee, werklik, Jakob, jy het dom opgetree. Kyk, ek kan julle natuurlik almal vernietig, maar die God van jou pa het my gekeer. ‘Jy moet nou nie dinge te ver dryf nie,’ het Hy gesê. ‘Dink nou mooi wat jy vir Jakob gaan sê.’ Goed, gaan dan maar. Jy verlang mos nou huis toe, so, gaan maar.” Laban het hom egter nog ’n laaste vraag gevra: “Vir wat het jy my huisgodjies gesteel?” Jakob het Laban geantwoord: “Waarvan praat jy? Kyk, ek was bang dat jy jou dogters met mag van my sou wegvat; daarom het ek gevlug. Maar van jou huisgodjies weet ek werklik niks nie. Deursoek ons goed voor almal hier en as jy dit by iemand kry, sal die persoon doodgemaak word. As jy ook enigiets anders kry wat joune is, kan jy dit terugvat.” Jakob het egter nie geweet dat Ragel die huisgodjies geneem het nie. Laban het by Jakob se tent begin en daarna in Lea se tent gaan soek. Hy het ook die tente van Bilha en Silpa deursoek, maar niks gekry nie. Daarna het hy na Ragel se tent toe gestap. Sy het intussen die huisgodjies in die kameel se saalsak weggesteek en daar bo-op gaan sit. Laban het die hele tent gefynkam, maar niks gekry nie. Ragel het vir Laban gesê: “Pa moet tog nie vir my kwaad wees omdat ek bly sit nie. Dit is weer daardie tyd van die maand en ek kan nie opstaan nie.” Laban het verder gesoek, maar niks gekry nie. Jakob het kwaad geword en Laban trompop geloop: “Wat het ek verkeerd gedoen? Vir wat agtervolg jy my so? Waar het ek oortree? Jy het al my goed deursoek en wat het jy gekry? Kon jy enige gesteelde goed kry? Kom sit dit dan hier voor my en jou mense neer. Laat hulle dan besluit of ek ’n dief is of nie.” Jakob het voortgegaan: “Twintig lange jare het ek jou getrou gedien. Nooit het jou skaapooie of bokooie hulle lammers verloor nie. Nooit het ek ’n ram gesteel en dit geëet nie. As wilde diere jou diere verskeur het, het ek jou nie eens daarvan vertel nie. Jy het my altyd dubbel en dwars daarvoor laat betaal, of hulle bedags of snags gesteel is. Daarom het ek maar self die dier vervang. Bedags het die verskriklike hitte my geteister en in die nag die koue. So erg was dit dat ek vir lang tye nie kon slaap nie. Twintig jaar het ek vir jou gewerk. Veertien jaar vir jou twee dogters en vir baie jare het ek jou vee opgepas. En wat het jy gedoen? Jy het my salaris aanmekaar verander. As dit nie vir my pa se God, die God van my oupa Abraham en die Beskermer van my pa, Isak, was nie, het ek vandag niks gehad nie. Maar God ken my swaarkry en het my harde werk raakgesien, en daarom het Hy jou gisteraand gewaarsku.”

Video for Genesis 31:22-42