Genesis 31:1-16

Genesis 31:1-16 DB

Jakob het gehoor wat Laban se seuns oor hom rondvertel het. Hulle het gesê: “Jakob het al ons pa se goed gevat. Hy het ryk geword met goed wat aan ons pa behoort.” Jakob het ook gesien dat Laban se houding heeltemal verander het. Hy was nie meer so hartlik soos vroeër nie. Die Here het vir hom gesê: “Jakob, gaan huis toe. Gaan terug na die land van jou pa waar jy gebore is. Ek sal by jou wees.” Toe Jakob op ’n keer met sy vee in die veld was, het hy Ragel en Lea na hom toe laat kom. Daar in die veld het hy vir hulle gesê: “Julle pa se houding het verander. Hy is nie meer so vriendelik teenoor my soos vroeër nie. Gelukkig is die God van my pa nog by my. Julle weet hoe hard ek vir julle pa gewerk het. En tog het hy my gekul. Oor en oor. Hy het my loon voortdurend verander. Maar God het hom nie toegelaat om my te breek nie, want elke keer as Laban gesê het: ‘Die diere met spikkels is jou loon,’ is daar net gespikkeldes gebore. En as hy gesê het: ‘Die gestreepte diere is jou loon,’ was daar net gestreeptes. So het God julle pa se diere weggeneem en dit vir my gegee.” Jakob het verder vertel: “Eendag, dit was in die paartyd, het ek ’n droom gehad. Ek het gesien hoe gespikkelde, gestreepte en gevlekte bokramme met die ooie paar. Al die lammetjies wat gebore sou word, sou ook gespikkel, gestreep en gevlek wees. “En terwyl ek nog so droom, roep die Engel van God my: ‘Jakob.’ Ek het geantwoord: ‘Hier is ek.’ “Die Engel het voortgegaan: ‘Ek het dit ook gesien. Al die ramme tydens paartyd was gespikkel, gestreep en gevlek. Alles wat Laban oor die jare aan jou gedoen het, het Ek raakgesien. Jakob, Ek is die God van Bet-El. Daar het jy lank gelede ’n klip regop gesit, olie daaroor uitgegooi en toe ’n gelofte aan My gemaak. Los nou hierdie land en sy mense en gaan terug na die plek waar jy gebore is.’” Toe Ragel en Lea alles gehoor het, het hulle gesê: “Is ons nog deel van ons pa en sy familie? Wag daar vir ons nog ’n erfporsie? Of het ons pa ons al lankal eenkant toe gestoot? Hy het ons ook besteel. Hy het ons geld gevat en ons deel van die bruidskat vir hom geneem. Al ons pa se rykdom wat God teruggeneem het, is eintlik ons en ons kinders s’n.” Ragel en Lea het toe vir Jakob gesê: “Doen wat God vir jou gesê het om te doen.”

Video vir Genesis 31:1-16