Galasiërs 3:26-28

Galasiërs 3:26-28 DB

Ja, soos ’n kwaai oppasser het die wet heeltyd oor ons baasgespeel totdat Christus uiteindelik gekom het. Maar nou het ons geloof ons in die regte verhouding met God gebring. Daarom staan ons nie meer onder die baasskap van die wet nie. Nee, nou is julle almal God se kinders omdat julle in Christus Jesus glo. Weet julle, toe julle gedoop is, het julle deel gekry aan Christus se redding. Julle doop was soos ’n stel splinternuwe klere. By julle doop het julle Christus aangetrek soos ’n mens ’n stel nuwe klere aantrek. Nou behoort julle heeltemal aan Hom. Omdat julle aan Christus behoort, is julle nou ook deel van sy nuwe familie. Binne hierdie familie maak dit glad nie saak aan watter volk jy behoort nie. Of wat jou status of jou geslag is nie. Hier gaan dit nie daaroor of jy ’n Jood of ’n Griek is nie, en of jy ’n slaaf of ’n baas is nie, en of jy ’n man of ’n vrou is nie. Binne sy familie is almal gelyk. Almal hier binne is nou soos een nuwe mens in Christus Jesus.