Esegiël 7

7
Die Here: “En dan sal die einde kom!”
1Die Here het toe weer met my gepraat. 2Hy het vir my gesê: “Ek is die Here jou God. Sê nou vir Israel: Mens, die einde van alle dinge kom een van die dae. Dit is voor die deur! Na watter kant toe jy ook al kyk, of dit na die ooste of die weste of die noorde of die suide is, dis klaar met jou land. 3Daar’s geen hoop meer oor vir jou nie, want jy het My baie kwaad gemaak. Ek gaan jou straf. Ek roep jou nou nader sodat jy verslag kan kom doen oor al die vieslike dade wat jy aangevang het. 4Ek sal jou glad nie jammer kry nie. Nie een van jou verskonings sal My laat afsien van my planne nie. Ek gaan jou straf oor al die slegte dade wat jy gedoen het. Al die slegte dinge wat jy gedoen het, sal nou met jou gebeur. Dan sal jy besef dat Ek regtig jou God is.”
5So sê die Here, die God van Esegiël: “Jy sal met een hou na die ander getref word tot jy vuisvoos is. 6Jou einde is op jou. Jy staar die dood in die gesig. Dis klaar met jou! 7Die dag dat jy vernietig gaan word, is voor die deur, Israel. Die tyd van straf het vir jou aangebreek. Groot moeilikheid wag vir jou. Niemand sal nou van vreugde uitroep nie. Nee, jy sal net hoor hoe mense vol vrees skreeu om hulp. 8Ek gaan my humeur binnekort met jou verloor. Dan gaan Ek jou straf vir al die slegte dinge wat jy gedoen het. 9Ek sal jou nie spaar nie, en Ek sal jou ook nie jammer kry nie. Ek sal jou terugbetaal vir al die vieslike dade wat jy gedoen het. Dan sal jy weet dat dit Ek, die Here, is wat jou so slaan.
10“Die dag het aangebreek dat Ek jou gaan veroordeel. Jy gaan heeltemal vernietig word. Die mense se slegte dade was nog nooit so baie soos nou nie, en dan is hulle nogal ewe trots op hulleself! 11Hulle het ander mense gewelddadig behandel, en nou sal hulle gewelddadig behandel word om hulle terug te kry vir al hulle slegte dade. Nie een van daardie slegte mense wat so trots op hulself is, sal die ramp oorleef wat Ek stuur nie. Hulle sal alles verloor wat hulle besit. 12Ja, die dag dat die oordeel aanbreek, het nou gekom. Dit is vandag. Mense wat dink dat hulle vandag nog iewers ’n winskoop raakgeloop het in ’n saketransaksie, moenie daaroor bly wees nie. En mense wat besigheid doen en ’n verlies gemaak het, moenie daaroor huil nie. Want hulle almal gaan my straf ervaar. 13En as enigiemand wat besigheid doen die ramp sou oorleef, sal hulle in elk geval nooit weer kan terugkeer na hulle besigheid nie. Want wat God gesê het, geld vir almal. Hulle is almal ewe skuldig voor My oor hulle slegte dade. Niemand sal op die ou end bly lewe nie.
14“Die hele weermag van Israel is opgeroep om te kom veg, maar die geveg sal nie eens begin nie. Want voor jy kan begin veg, tref my straf almal wat in die land woon. 15Almal wat uit die stad wegvlug, sal deur vyande rondom die stad doodgemaak word. En die mense wat in die stad bly, sal doodgaan van hongersnood en dodelike siektes. 16Die paar mense wat oorleef en na die berge vlug, sal soos tortelduiwe klink wat koer soos hulle huil oor hulle sondes. 17Mense sal nie hulle hande kan optel nie en hulle bene sal kragteloos onder hulle padgee. 18Hulle sal hulle aantrek asof hulle op pad is na ’n begrafnis. Hulle sal heeldag bang wees. Hulle sal bewe vir enigiets wat hulle sien. En hulle sal hulle klaarmaak om as gevangenes na ’n vreemde land weggevat te word.
19“Hulle sal hulle geld weggooi omdat dit niks meer werd sal wees nie. Geen geld sal ’n mens in elk geval kan red as die Here vir hom kwaad word nie. Hulle geld sal hulle nie kan help nie. Hulle sal nie daarmee kos kan koop nie, want daar sal geen kos wees nie. Dit is juis oor hulle geld dat hulle soveel slegte dinge aangevang het. 20Hulle was so trots op al hulle goue juweliersware. Dis dieselfde juweliersware wat hulle gesmelt het om afgode te maak wat afskuwelik en walglik is. Dit is hoekom Ek nou sorg dat hulle geld en besittings waardeloos en walglik vir hulle sal word. 21Ek sal hulle geld en hulle besittings vir die vyande gee wat Ek na hulle land toe gaan stuur. Diewe sal al hulle kosbare goed steel. 22Ek sal niks doen as diewe selfs die tempel, my eie huis hier op aarde wat vir My baie kosbaar is, besteel en van ’n kant af bemors nie.
23“Maak my volk reg om as gevangenes na ’n ver en vreemde land weggevoer te word, want die mense wat in die howe moes werk, het self ’n spul moordenaars geword. Jerusalem is van hoek tot kant vol geweld.
24“Ek bring die slegste en die wreedste nasies hiernatoe. Hulle sal julle huise vir hulle vat. Ek breek die groot huise af van almal wat so trots was op wat hulle het, en Ek trek ook weg uit my eie huis, die tempel daar in Jerusalem.
25“My volk sal vol vrees en benoudheid rondhardloop. Hulle sal wens dat daar weer vrede in hulle land moet kom, maar daar sal geen vrede wees nie. 26Daar sal net nog meer rampe en moeilikhede wees; dit sal nooit ophou nie. Hulle sal die een gerug na die ander hoor van rampe wat oor die volk kom. Dan sal mense na die godsdienstige leiers toe hardloop en vra: ‘Wat sê die Here vir ons?’ Maar die leiers sal hulle ook nie kan help nie. Niemand sal vir hulle kan sê wat om te doen nie. 27Die regeerders van die land sal hulle ook nie kan help nie. Die regeerders sal self staan en huil, so hartseer sal hulle wees. En die mense sal bewe, so bang sal hulle wees. Dan sal Ek al die slegte dade wat mense aan mekaar gedoen het, aan hulle terugdoen. Hulle sal gestraf word met die straf wat hulle verdien. Dan eers sal hulle besef en erken dat Ek die Here is.”

Tans Gekies:

Esegiël 7: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid