Esegiël 40

40
Die plek waar die nuwe huis van die Here gaan staan
1Op die 28ste April 573 v.C. het die Here Homself op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak. Ons was toe al 25 jaar lank gevangenes in ’n vreemde land. Dit was veertien jaar nadat Jerusalem deur ons vyande met die grond platgevee is. 2Die Here het aan my verskyn. Hy het my toe na Israel toe gevat. Ek het gesien hoe Hy my op ’n baie hoë berg neersit. Van daar af kon ek ’n stad sien wat ’n ent daarvandaan was, so na die suidekant toe. 3Soos Hy my nader gebring het, het ek ’n man gesien wat langs ’n ingangshek na die stad toe gestaan het. Wanneer die lig daarop skyn, het hierdie man se gesig geblink asof dit van brons gemaak is. Hy het ’n liniaal en ’n tou in sy hande gehad.
4Hierdie man sê toe vir my: “Mens, jy moet baie mooi kyk na wat nou voor jou oë gaan afspeel. En jy moet mooi luister. Jy is hiernatoe gebring sodat ek jou ’n hele klomp dinge kan wys. Dan moet jy teruggaan na Israel en hulle presies gaan vertel wat jy alles gesien het.”
God se groot, nuwe huis
5Ek sien toe ’n muur wat reg rondom die huis van die Here gebou is. Die man het sy liniaal gevat. Die liniaal was drie meter lank. Hy meet toe die muur om die huis van die Here met sy liniaal. Die muur was presies drie meter lank en ook drie meter dik.
6Toe het die man na die hek aan die oostekant van die huis van die Here gegaan. Hy het met die trap opgeklim en toe meet hy die drumpel. Dit was ook drie meter breed. 7Binne-in die poort was daar plek waar die wagte kon sit, aan weerskante van die ingang. Elke vertrek waar die wagte gesit het, was drie meter by drie meter groot. Die muur tussen die twee vertrekke was twee en ’n half meter dik. Aan die binnekant was daar ’n opening waardeur ’n mens in die huis van die Here kon ingaan. Die begin van die portaal was ook drie meter wyd. 8Die man het dit gemeet en gesien dat dit drie meter breed was. 9Daarna het hierdie man ook die opening gemeet waardeur ’n mens ingaan na die huis van die Here se terrein. Dit was vier meter by vier meter, en die muur was ’n meter dik.
10Aan weerskante van hierdie vertrek was daar drie kamers. Hierdie kamers was ewe groot. Die mure tussen die kamers was ewe dik. 11Die man het toe ook hierdie opening gemeet. As die hek oop was, was die ingang vyf meter breed. Die volle lengte van die opening was ses en ’n half meter wyd met die hek toe. 12Voor die kamers aan die kante was daar afskortings. Hulle was elkeen ’n halwe meter dik. Die kamers was drie meter by drie meter.
13Toe het die man ook die wydte van die hele gebou gemeet waardeur ’n mens gaan as jy in die huis van die Here se terrein wil kom. Dit was van die kamers aan die een kant tot by die kamers aan die ander kant. Die afstand was twaalf en ’n half meter. Die kamers se ingange was regoor mekaar. 14Die man het toe ook die opening gemeet waardeur ’n mens gaan. Die afstand van die opening tot agter die gebou waardeur ’n mens moet gaan, was 30 meter. 15Hy het ook die afstand gemeet van voor die opening tot by die buitenste gebou, en dit was 25 meter. 16Agter in die kamers was daar vensters gebou wat met houthortjies toegemaak het. In die opening was daar ook vensters. Teen die mure van al hierdie vertrekke het mense prente van palmbome geteken.
Aan die buitekant van God se huis
17Toe vat die man my na die buitenste opening waardeur ’n mens gaan. Rondom hierdie opening was daar ook vertrekke. Die vloer was van plaveiselstene. Daar was 30 vertrekke. 18Die plaveiselstene was aan weerskante van die opening, en hulle was net so breed as wat hulle lank was. Hierdie plaveiselstene was aan die onderkant van die vertrek. 19Die man het toe die afstand gemeet van die voorkant van die eerste opening en die voorkant van die ingang. Dit was 50 meter aan die een kant en 50 meter aan die ander kant. 20Daarna het hy ook die lengte en breedte gemeet van die ingang aan die buitekant, die ingang wat na die noordekant kyk. 21Hierdie ingang het drie kamers aan elke kant gehad. Die afmetings was dieselfde as die afmetings van die ander kamers. Hierdie ingang was ook 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd. 22Sy vensters en ingang en die tekeninge van palmbome het nes dié gelyk van die ander ingang. ’n Mens moes ses trappe klim om hierdie ingang te bereik. Agter was nog ’n ingangsportaal. 23Daar was ook ’n gebou regoor die binneste ingang, teenoor die ingang aan die noordekant. Dit het net so gelyk soos die ingang aan die oostekant. Die man het toe die afstand tussen die twee ingange gemeet. Dit was 50 meter. 24Daarna vat die man my na die suidekant toe. Hier was ook ’n ingang met net sulke geboue as by die ander twee ingange. Die man het hulle ook gemeet, en dit was presies dieselfde as die ander geboue. 25Ook hier was vensters, en die opening was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd. 26Daar was ook sewe trappe wat jy moet opklim om by die ingang te kom. En agter was ook ’n ingangsportaal. Teen die mure was daar ook prente van palmbome.
27Aan die suidekant was daar ook ’n ingang met ’n gebou teen die huis van die Here se kant. Die man het die afstand tussen die buitenste ingang en die binneste ingang gemeet. Dit was 50 meter. 28Daarna het hy my na die binneste ingang van die suidelike toegang geneem. Hy het hierdie opening gemeet. Dit was dieselfde as die ander ingange tot die huis van die Here se terrein. 29Ook die kamers aan die kante en die ingangsportaal was presies net so groot soos die ander ingange tot die huis van die Here se kamers en portale. Die gebou en die ingangsportaal het ook vensters in gehad, en dit was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd. 30Elke ingang het ’n ingangsportaal gehad na die binneste opening toe. Hierdie portaal was twaalf en ’n half meter lank en twee en ’n half meter wyd. 31Die ingang het ook ’n ingangsportaal na die buitekant gehad. Daar was tekeninge van palmbome teen die mure. En daar was agt trappe wat jy moes opklim om by die ingang uit te kom.
32Daarna het die man my na die oostekant toe geneem, na die ingang daar. Hy het hierdie ingang gemeet. Dit was net so groot soos die ander ingange. 33Die kamers en die mure en die ingangsportaal was ook net so groot soos in die ander ingange. Die gebou en die ingangsportaal het ook vensters gehad. Dit was ook 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd. 34Die gebou het ook ’n ingangsportaal na die buitekant toe gehad. Teen die mure was daar tekeninge van palmbome. ’n Mens moes agt trappe klim om by die ingang te kom.
35Daarna het die man met my na die noordekant toe gegaan en dit gemeet. Dit was presies net soos die ander drie ingange. 36Daar was ook kamers en mure en ingangsportale, en vensters reg rondom. Die gebou was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd. 37Sy ingangsportaal was na die buitekant toe, met palmbome teen die mure geverf en agt trappe waarteen jy moet opklim. 38Daar was ’n ekstra vertrek wat hier gebou is met ’n opening na die ingangsportaal. Hier is die brandoffers afgespoel wat op die altaar verbrand is.
By die ingangsportaal van God se huis en verder
39In die ingangsportaal was daar twee tafels aan weerskante teen die muur. Hierop is die diere geslag wat verbrand word sodat die Here mense se slegte dade kan vergewe. 40Buitekant die ingangsportaal was daar ook twee tafels, en aan die ander kant van die ingangsportaal ook. 41So was daar agt tafels in totaal. Die diere wat geoffer word, is hier afgeslag. 42Daar was ook vier tafels wat van klip gemaak is. Elkeen van dié tafels was ’n driekwart meter by ’n driekwart meter en ’n half meter hoog. 43Bokant die tafels was daar rakke. Hier is die messe en ander gereedskap gebêre waarmee die diere afgeslag is. 44Buite die ingangsportaal was kamers waar die mense kon bly wat in die huis van die Here musiek gemaak het. Die vertrekke was by die ingang aan die noordekant en het suid gekyk. Teen die ingang aan die oostekant was daar ook ’n kamer, wat noord gekyk het. 45-46Die man het toe vir my verduidelik: Die vertrek wat suid kyk, is daar sodat die mense wat in die huis van die Here werk, daarin kan bly. Dis net bedoel vir mense wat in die huis van die Here werk. Slegs hulle wat kleinkinders van Levi is, mag in die huis van die Here werk.
47Die man het toe die voorste deel van die huis van die Here gemeet. Dié vertrek was 50 meter by 50 meter. Die altaar waarop die offers gebring is, was voor die huis van die Here. 48Daarna het die man die mure aan weerskante van die voorste deel van die huis van die Here gemeet. Hulle was twee en ’n half meter lank. 49Die ingang tot die voorste deel was tien meter lank en ses meter breed. ’n Mens kon die ingang bereik deur tien trappe te klim. Aan weerskante van die ingang was daar ’n pilaar teen elke muur.

Tans Gekies:

Esegiël 40: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid