Esegiël 25
25
Die Here praat oor die mense wat in Ammon bly
1Die Here het toe weer met my gepraat en vir my gesê: 2“Mens, kyk na daardie kant toe waar die mense van Ammon woon. En sê vir daardie land en sy inwoners alles wat Ek vir jou sê. 3Sê vir die mense van Ammon die Here, Esegiël se God, dink só oor hulle: Julle het gelag en gespot toe my huis afgebreek is. En julle het Israel gespot toe sy deur haar vyande verwoes is. Julle het gelag toe party van die mense van Juda as gevangenes na ’n vreemde land toe weggevat is. 4Daarom beveel Ek nou dat die mense wat in die woestyne daar aan die oostekant bly julle land inneem. Hulle sal tussen julle dorpe en stede kom kamp opslaan. En hulle sal julle oeste afvat en julle skape en beeste steel. 5Daardie dag sal Ek Rabba, julle hoofstad, ’n stuk oop veld maak waar kamele kan wei. En die ander stede sal verwoes word sodat skape daar kan wei. Daardie dag sal julle erken dat Ek die Here is.”
6Die Here, Esegiël se God, sê: “Julle het hande geklap en gedans en van vreugde uitgeroep omdat my volk vernietig is. 7Daarom lig Ek my vuis teen julle op en slaan julle plat. Ek gee julle as buit vir ander nasies om mee te maak wat hulle wil. Julle sal nie meer ’n nasie wees nie. Ek vernietig julle heeltemal. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.”
Die Here praat oor die mense wat in Moab woon
8Toe sê die Here, die God van Esegiël: “Die mense van Moab het gesê Juda is maar net soos al die ander nasies. Daar is geen verskil tussen my volk en die heidene nie. 9Daarom sal Ek al die stede aan julle oostekant en op julle grens vernietig, want julle het gedink dat daardie stede julle sal beskerm. 10Ek gee julle land vir die inwoners van die woestyn aan die oostekant, nes Ek met Ammon gemaak het. Daarom sal die Ammoniete nie langer ’n nasie wees nie. 11En julle sal ook nie langer as ’n nasie bestaan nie, want Ek vernietig julle. Ek straf julle vir wat julle gedoen het. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.”
Die Here praat oor die mense wat in Edom woon
12So sê die Here, Esegiël se God: “Die mense van Edom het sleg opgetree toe hulle wraak geneem het op die mense van Juda, toe die Babiloniërs die mense van Juda verslaan het.
13“Daarom,” sê die Here, die God van Esegiël, “gryp Ek Edom aan sy keel. Ek slaan hom met die vuis. Ek roei sy mense uit, en sy vee. Ek stuur die swaard teen die land. Daar sal net een groot puinhoop oorbly, van die noorde van die land af tot in die suide. 14En Ek sal my volk, Israel, gebruik om dit te doen. Hulle sal wraak neem op die mense van Edom omdat Ek Edom straf vir sy slegte dade. Daardie dag sal Edom weet dat dit Ek is wat dit gedoen het. Dit is Ek, die Here, die God van Esegiël, wat gepraat het.”
Die Here praat oor die Filistyne
15Toe het die Here, die God van Esegiël, verder gepraat: “Die Filistyne het lelik met Juda gemaak. Hulle wou Israel vernietig omdat hulle al jare lank vir hulle kwaad is. 16Daarom gaan Ek, die Here, Esegiël se God, die Filistyne gryp en hulle met die vuis bykom. Ek gaan hulle heeltemal uitroei. Ja, Ek gaan hierdie mense wat langs die see woon, heeltemal verwoes. 17Ek gaan my wraak oor hulle uitstort en Ek gaan hulle straf soos hulle verdien. Wanneer Ek dit gedoen het, sal die Filistyne weet dat Ek die Here is.”
Tans Gekies:
Esegiël 25: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.