Esegiël 23

23
Eendag was daar twee susters
wat by ander mans geslaap het
1Die Here het die volgende boodskap vir my gegee: 2“Mens, daar was eenkeer twee susters. Hulle het dieselfde ma gehad. 3Hierdie twee susters het prostitute geword. Hulle het hulle liggame in Egipte verkoop. Selfs toe hulle nog jongmeisies was, het hulle al mans toegelaat om hulle te liefkoos en aan hulle borste te vat. 4Die ouer sussie se naam was Ohola, en haar sussie was Oholiba. Ek het met albei van hulle getrou. Ek het seuns en dogters by hulle gehad. Ohola is eintlik Samaria, en Oholiba is Jerusalem.
5“Maar Ohola was nie tevrede om net met My getroud te wees nie. Sy wou graag ook by ander mans slaap. Sy het saam met die Assiriërs in die bed geklim. 6Die Assiriërs is almal aantreklike jongmanne. Party is kapteins en ander is generaals. Hulle lyk so mooi in hulle blou uniforms as hulle op hulle perde sit. 7Samaria het haarself vir die aantreklikste mans van Assirië gegee en by hulle geslaap. Sy het hulle afgode aanbid. 8Want toe sy uit Egipte weggetrek het, het sy nie haar slegte dade agtergelaat nie. Sy het nog nooit opgehou om sleg te doen nie. Sy is nog net so sleg as toe sy ’n jongmeisie in Egipte was. Die Egiptenaars het al by haar geslaap toe sy nog maar ’n jongmeisie was. Hulle het aan haar borste gevat en haar verlei om die vieslikste dinge te doen. Hulle kon nie genoeg van haar kry nie. 9Daarom het Ek haar oorgegee aan die mans van Assirië. Sy wou hulle mos graag hê. 10Toe het hulle haar kaal uitgetrek en haar doodgemaak. En hulle het haar kinders as gevangenes saamgevat. Al die mense in die wêreld het van haar gehoor. Sy was die vrou wat gekry het wat sy gesoek het. Ek het haar vir haar slegte dade gestraf.”
Al hoe erger
11“Oholiba het alles gesien wat met haar sussie gebeur het, maar sy het alles gedoen wat haar sussie gedoen het. Sy was selfs nog slegter. Sy het haar oorgegee aan die slegste dinge. Sy het saam met elke man in die bed gespring. 12Sy kon ook nie haar oë weghou van haar Assiriese bure nie. Sy het die aantreklike jongmanne op hulle sterk perde begeer, die kapteins en generaals in hulle mooi uniforms. 13Ek het gesien wat sy doen, hoe sy haar liggaam vernietig deur haar sondes, nes haar ouer sussie.
14“Maar dit was nie vir haar genoeg nie. Sy het nog verder gegaan. Sy het verlief geraak op prentjies wat op ’n muur geverf was. Dit was prentjies van Babiloniese soldate wat rooi uniforms aangehad het. 15Hulle het blink gordels en hoede gedra. Hulle was aangetrek soos Babiloniese soldate wat met perde oorlog maak. 16Toe sy hierdie prentjies sien, het sy net een begeerte gehad. Sy wou haar liggaam met hulle deel. Daarom het sy boodskappers na Babilonië gestuur en hierdie soldate genooi om na haar toe te kom. 17En hulle het gekom en by haar geslaap. Hulle het haar vuil gemaak. Maar hierna het sy nie meer van hulle gehou nie. Sy het hulle weggejaag.
18“Daarom het Ek moeg geraak vir albei sussies se slegte dade. Hulle het albei net vieslike dinge met ander mans aangevang. 19Maar dit het Jerusalem nie gepla nie. Sy het selfs nog slegter dade gedoen. Sy het onthou hoe sy as ’n jongmeisie in Egipte al rondgeslaap het. En sy het nie opgehou met al die slegte dinge wat sy gedoen het nie. 20Sy het nie teruggedeins van die slegste dinge nie. 21Oholiba, jy het bly terugverlang na jou slegte gedrag toe jy in Egipte ’n jongmeisie was en die mans jou geliefkoos en met jou borste gespeel het.”
Gewese minnaars neem wraak
22So sê die Here, die God van Esegiël: “Oholiba, Ek gaan die mans by wie jy geslaap het, teen jou laat optrek. Hulle is die nasies wat jy weggejaag het omdat jy nie meer van hulle gehou het nie. 23Hulle sal van alle kante af op jou neersak: die Babiloniërs en die Galdeërs sal saam kom, en die Assiriërs ook. Hulle kapteins en generaals op hulle perde sal op jou toesak. 24Hulle sal uit die noorde kom met waens en perde en ’n leërmag met baie wapens, gereed om jou aan te val. Hulle sal jou met al hulle soldate omsingel. En Ek sal jou aan hulle oorgee sodat hulle met jou kan doen wat hulle wil. 25Ek was jaloers op jou, en Ek was kwaad oor wat jy gedoen het. Daarom gee Ek jou oor sodat jou vyande my straf oor jou bring. Hulle sal jou sleg behandel. Hulle sal jou neus en ore afsny soos ’n mens met opstandige vyande van jou doen. En hulle sal almal wat die oorlog oorleef, voor die voet doodmaak. Jou kinders sal as gevangenes weggeneem word na ’n vreemde land. Alles wat in jou oor is, sal tot op die grond afgebrand word. 26Hulle sal al jou juwele en mooi klere steel. 27Op hierdie manier sal Ek ’n stokkie steek voor jou slegte dade. Jy sal nie meer saam met enige ander man in die bed kan spring nie, soos jy gemaak het vandat jy in Egipte gebly het. Jy sal nooit meer begeer om verkeerde dinge te doen nie, en jy sal ook nie meer wens jy was weer in Egipte nie.”
28Dit is wat Ek, die Here, Esegiël se God, oor jou sê: “Ek gee jou oor sodat jou vyande met jou kan maak wat hulle wil. Dis die mense op wie jy neergesien het. 29Hulle haat jou en sal met jou maak wat hulle wil. Hulle sal vat wat hulle wil hê, en dan sal hulle jou kaal en stukkend los. Die hele wêreld sal jou sien vir wat jy is: ’n slegte vrou wat by ander mans geslaap het. 30Jy het dit alles oor jouself gebring, want jy het jou vertroue op ander nasies gestel. Jy het jouself met hulle afgode besoedel. 31Omdat jy nes jou sussie gemaak het, sal Ek jou straf deur dieselfde dinge oor jou te bring wat haar ook getref het.”
32Ja, dis wat die Here, die God van Esegiël, sê: “Ek laat jou uit dieselfde beker drink waaruit jou suster gedrink het. Dit is ’n beker wat tot oorlopens toe vol is met my straf. Die hele wêreld sal sien hoe Ek jou straf, en dan sal hulle vir jou lag en met jou spot omdat Ek jou verwoes het. 33Jy sal soos ’n dronklap slinger soos Ek jou gaan slaan. Jy gaan net so swaarkry soos jou suster, Samaria. 34Jy sal die beker wat Ek vir jou gee, moet drink tot die laaste druppel toe. Dan sal jy die beker vat en hom stukkend slaan. En jy sal jou kop teen die muur kap omdat jy sulke dom dinge aangevang het. Dis Ek, die Here, Esegiël se God, wat hier praat. 35Jy het mos heeltemal van My vergeet. Jy het die rug vir My gedraai. En daarom,” sê die Here God, “sal jy die gevolge moet dra van jou slegte gedrag. Jy wou My mos verwerp en ignoreer!”
Kla nou die twee slegte susters aan
36Die Here het toe vir my gesê: “Mens, kla vir Ohola en Oholiba aan. Vertel vir hulle watter afskuwelike, slegte dinge hulle gedoen het. 37Hulle het by ander mans geslaap terwyl hulle met My getroud was. En hulle het ander mense doodgemaak. Hulle het by ander mans geslaap deur voor ander afgode neer te buig. En hulle het moord gepleeg deur hulle kinders as offers voor hulle afgode te verbrand. 38Toe het hulle nog gegaan en my huis onrein gemaak met wat hulle gedoen het. En hulle het die sewende dag wat Ek vir rus opsy gesit het, gebruik om te werk. 39Op dieselfde dag wat hulle hulle kinders voor hulle afgode vermoor het, het hulle in my huis ingestap en gedink hulle kan My ook aanbid!
40“Julle twee susters het boodskappers na verre lande gestuur en gevra dat die mans van daardie lande by julle moet kom slaap. En toe hulle by julle aankom, het julle julle gebad en grimering aangesit. Julle het julle beste juwele uitgehaal en vir hierdie mans aangesit. 41En julle het saam met hulle op julle beste meubels gaan sit. Toe het julle die wierook en olie wat Ek vir julle gekoop het, uitgehaal en dit vir hierdie mans gebruik. 42Uit julle slaapkamer het die geluide gekom van mans wat by julle slaap. En hierdie mans wat uit die woestyn gekom het, was eintlik ’n klomp dronklappe. Maar hulle het julle beïndruk, want hulle het duur juwele vir julle saamgebring. Hulle het gesê julle is hulle koninginne. 43Dis toe dat Ek gesê het: As hierdie mans dan nou regtig by sulke vroue wil slaap wat hulleself aan slegte dade oorgegee het, laat hulle dan maar daar slaap! 44En dit is presies wat hulle gedoen het. Hulle het geslaap by Ohola en Oholiba, die twee prostitute wat geen skaamte ken nie. 45Die mense wat reg leef, sal besluit wat met hierdie twee susters, die twee stede, gedoen moet word. Hulle sal hulle sien vir wat hulle is: vroue wat by ander mans slaap en mense doodmaak. En hulle sal hulle straf met die straf wat hulle verdien.”
46So besluit die Here, die God van Esegiël, oor die twee susters: “Bring ’n hele leërmag teen hulle. Laat die soldate hulle vernietig en verwoes. 47Hulle vyande sal hulle met klippe gooi en hulle doodmaak. Hulle sal hulle seuns en dogters doodmaak en hulle huise afbrand. 48So sal Ek ’n einde maak aan hierdie land se slegte dade en hulle aanbidding van afgode. As Ek hierdie land straf, sal dit ander waarsku sodat hulle nie doen wat julle gedoen het nie. 49Julle sal elke sent betaal van die skuld van julle slegte dade en julle aanbidding van afgode. Ja, Ek sal julle straf soos dit hoort. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here God is.”

Tans Gekies:

Esegiël 23: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid