Eksodus 38

38
Die altaar waarop die offers verbrand word
1Hulle het vir die tent die altaar gemaak waarop die offers verbrand moes word. Dit is van akasiahout gemaak: twee en ’n half meter breed op die sye en een en ’n half meter hoog. 2Op elke hoek het hulle ’n uitsteeksel vasgesit wat soos ’n beeshoring lyk. Hulle het die hele altaar met koper oorgetrek. 3Ook die gereedskap wat by die altaar gebruik moes word, is van koper gemaak. Daar was potte om die as in te krap, skoppe om dit op te skep, komme, vurke en panne om kole in te dra. 4Hulle het ook ’n rooster van koper vir die altaar gemaak. Dit is aan die boonste helfte van die altaar vasgesit waar dit tot bo by die rand gekom het. 5Hulle het ook vier koperringe gemaak waardeur die drastokkke vir die altaar gesteek kon word. Dit was aan die hoeke van die altaar vas. 6Hulle het die drastokke van akasiahout gemaak en dit met koper oorgetrek. 7Die drahoute is deur die ringe gesteek om die altaar te dra wanneer dit vervoer moes word. Die altaar was ’n houtkis wat van binne hol was.
8Hulle het ook die kom met sy voetstuk waar die werkers hulleself moes gaan was, van koper gemaak. Die koper is geskenk deur die vroue wat by die ingang van die tent gewerk het. Hulle het hulle koperspieëls hiervoor gegee.
Die binnehof van die tent
9Verder het hulle ook ’n binnehof gemaak. Dit was ’n lapa reg rondom die tent. Die suidelike muur is van fyn linne gemaak. Dit was 44 meter lank. 10Die twintig pale wat dit regop gehou het en die hakies waaraan dit gehang het, was van silwer. Die silwerpale het kopervoetstukke gehad. 11Die muur aan die teenoorstaande kant van die binnehof was net so lank en het net soveel regop pale op kopervoetstukke gehad. Die gordyn voor die ingang het ook aan silwerhakies gehang en die regop pale waaraan dit vas was, was ook van silwer. 12Aan die westekant was die binnehof 23 meter lank. Daar was tien regop pale op voetstukke van koper. Ook hier was die hakies en pale van silwer. 13Aan die kant waar die son opkom, aan die oostekant, was die binnehof ook 23 meter lank. 14-15Daar was tien meter gordyn aan weerskante van die opening wat elkeen aan drie regop pale op voetstukke gehang het. 16Die materiaal wat reg rondom gebruik is om die binnehof te maak, was van fyngeweefde linne. 17Die voetstukke van al die pale was van koper gemaak. Die hakies waaraan die materiaal gehang het en die gordynstokke waardeur dit geryg is, was alles van silwer. 18Die gordyn by die ingang na die binnehof aan die oostekant, is gemaak van geweefde linne met blou, pers en bloedrooi weefwerk en borduursel. Dit was nege meter lank en, soos die hele afskorting van die binnehof reg rondom, bykans twee meter hoog. 19Dit is aan vier pale met hulle voetstukke van koper gehang. Die pale se bopunte, die hakies wat gebruik is en die gordynstokke waaraan dit hang, was van silwer. 20Die tentpenne waarmee die tent en die gordyn geanker is, is van koper gemaak.
Die materiaal wat gebruik is
21Hier volg nou presies die hoeveelheid materiaal wat gebruik is om die tent te maak. Die Leviete het alles onder leiding van Itamar presies opgeteken. Moses het gesê dat dit gedoen moes word. 22Besaleël die seun van Uri uit die stam van Juda het toesig gehou en gekyk dat alles gemaak is presies soos die Here gesê het. 23Oholiab die seun van Agisamak uit die stam van Dan het hom gehelp. Hy was ’n vakman en ontwerper wat die bekwaamheid gehad het om borduurwerk te doen met blou, pers en bloedrooi wol op linne.
24Die goud wat gebruik is om alles vir die tent te maak, was in totaal 986 kilogram goud en 38 kilogram silwer. Dit het gekom uit die vrywillige bydraes wat die volk gemaak het. 25Die silwer wat bymekaargemaak is toe die volk getel is, was 3 400 kilogram plus nog twintig en ’n vyfde kilogram.
26Toe die volk getel is, moes elke man bo twintig wat getel is, ses gram silwer betaal. Daar is in die sensus 603 550 mans getel.
27Die 100 stawe silwer is gebruik om die 100 voetstukke vir die regop pale te giet, dit wil sê 34 kilogram per voetstuk. 28Die twintig en ’n vyfde kilogram is gebruik vir die hakies en die gordynstokke en om die bopunte van die pale oor te trek. 29Die koper wat die volk geskenk het, was in totaal 2 380 kilogram, plus nog ’n verdere 27 en bykans ’n half kilogram. 30Daarvan is die volgende gemaak: die voetstukke van die regop pale by die ingang, die lys om die brandofferaltaar, sy koperrooster rondom, die gereedskap wat by die altaar gebruik is, 31al die voetstukke van die pale wat rondom die binnehof gebruik is, die voetstukke van die pale by die ingang en al die koperpenne wat gebruik is om die tent en die linnemuur rondom die binnehof te anker.

Tans Gekies:

Eksodus 38: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid