Eksodus 31

31
Die Here gee aan bepaalde mense
die vaardighede om die tent te bou
1Die Here het verder met Moses gepraat: 2“Ek het Besaleël gekies om die voorman te wees wanneer die tent gemaak word. Hy is Uri se seun. Sy oupa is Gur. Hulle is uit die stam van Juda. 3My Gees gee vir hom die verstand en die insig, die kennis en die vaardigheid 4om dinge te ontwerp en dit dan van goud of silwer of koper te maak. 5Hy kan met edelstene werk en houtsnywerk doen en enige kunswerk maak. 6Ek het ook Oholiab die seun van Agisamak uit die stam van Dan gekies om saam met hom te werk.
“Ek het aan verskillende mans wat fluks is met hulle hande die vaardigheid gegee om die tent te maak soos Ek vir jou beduie het. 7Hulle sal die tent maak waar Ek en julle mekaar gaan ontmoet. Hulle sal ook die ark maak waarin die bewys van ons ooreenkoms gehou moet word, die deksel wat bo-op pas, die gereedskap wat in die tent gebruik word, 8die tafel waarop die brode uitgestal word, saam met sy toerusting, die ligstaander wat lig gee in die tent en alles wat daarvoor nodig is, die kleiner altaar vir die wierook en 9die groot altaar buite waarop die offers verbrand moet word, saam met sy gereedskap, die koperbak op sy voetstuk waar die werkers hulleself was voor hulle in die tent gaan werk, 10die klere wat hulle moet dra wanneer hulle by die tent werk, Aäron se klere en die klere wat sy seuns moet dra, 11ook die salfolie en die wierookmengsel - alles wat Ek gesê het jy moet maak.”
Die rusdag: ’n teken van die
Here se ooreenkoms met Israel
12Verder het die Here ook nog vir Moses gesê 13om vir die Israeliete te sê: “Die belangrikste van alles is my rusdae. Julle moet my rusdae hou. Die rusdag is die belangrikste teken oor al die geslagte heen dat daar ’n ooreenkoms tussen My en julle bestaan. Dit is die teken dat Ek die Here is en dat Ek julle my volk gemaak het. 14Julle moet altyd op die sewende dag rus. Julle doen dit ter wille van My. Die persoon wat hom nie aan die rusdag steur nie, moet doodgemaak word. Iemand wat op die rusdag maar net aangaan met sy werk asof daar nie ’n ooreenkoms met My is nie, hoort nie by my volk nie. Hy moet beslis weggejaag word. 15Julle kan ses dae lank aangaan met julle werk. Op die sewende dag moet daar uit eerbied vir die Here heeltemal opgehou word met die werk. As iemand moedswillig is en maar net eenvoudig aangaan met sy werk, moet hy doodgemaak word.
16Vir die Israeliete en vir hulle nageslag is die rusdag ’n ooreenkoms met die Here wat vir altyd staan. Daarom moet hulle sorg dat hulle dit altyd hou. 17Dis vir altyd ’n teken dat daar ’n ooreenkoms tussen My en Israel is. Die Here het die hemel en die aarde in ses dae gemaak. Hy het op die sewende dag opgehou om weer asem te skep en uit te rus.”
Die plat klippe: ’n getuienis van sy ooreenkoms
18Toe die Here op Sinaiberg klaar met Moses gepraat het, het Hy vir hom die twee plat klippe gegee. Die klippe is die bewys van sy ooreenkoms met Israel. Die Here het self op die klippe die reëls vir sy ooreenkoms neergeskryf.

Tans Gekies:

Eksodus 31: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid