Eksodus 26

26
Die dak van die tent
1“Jy moet vir die tent ’n dak maak wat uit drie lae materiaal bestaan. Die onderste laag word van tien stukke materiaal gemaak. Die materiaal moet fyn linne wees waarin blou, pers en bloedrooi draad ingeweef is en waarop figure met vlerke geborduur is. 2Elkeen van hierdie tien stukke moet presies ewe groot wees. Elkeen moet veertien meter lank en twee meter breed wees. 3Daaruit moet jy twee identiese stelle maak. Vir elkeen sit jy vyf stukke materiaal op mekaar en werk hulle op die lengte aan die kant vas. 4-5Jy moet blou lussies al om die buitekant van elkeen van die twee stelle vaswerk. Daar moet dus 50 lussies wees wat presies teenoor mekaar is wanneer die twee stelle op mekaar gepas word. 6Maak ook 50 goue hakies om deur die lussies te haak sodat die twee velle aan mekaar vasgehaak kan word om een dubbelvel te vorm. Dit is dan die onderste laag van die tent se dak.”
Die middelste laag van die tent se dak
7“Maak ’n tweede laag vir die dak van bokhaarmateriaal om bo-oor die eerste laag te trek. Hiervoor is elf stukke materiaal nodig. 8Al elf stukke moet presies ewe groot wees. Elkeen moet vyftien meter lank en twee meter breed wees. 9Maak weer twee stelle op. Vir die een stel werk jy vyf stukke materiaal aan mekaar vas. Vir die ander een gebruik jy ses stukke. Die sesde stuk word dubbel gevou. Dit sal by die voorkant van die tent kom. 10Werk lussies al om die buitekant van elkeen van die twee stelle sodat daar 50 lussies is wat teenoor mekaar is wanneer die twee stelle op mekaar gesit word. 11Maak ook 50 koperhakies om deur die lussies te haak sodat die twee velle aan mekaar vasgehaak kan word om een dubbelvel te maak vir die tweede laag van die tent se dak. 12-13Die gedeelte van hierdie laag wat groter is as die een onder hom, moet so gespan word dat dit ewe veel aan albei die lang kante van die tent oorhang.”
Die heel boonste laag van die dak
14“Die boonste laag van die dak moet van gelooide ramsvel gemaak word met gebreide vel oor.”
Die raam waaroor die seile gespan word
15“Jy moet ’n raam van akasiahout vir die tent maak. 16Die raam is saamgestel uit houtpanele wat elkeen vyf meter hoog en 75 sentimeter breed is. 17Aan elke paneel moet daar twee laspunte wees, sodat die een paneel aan die volgende een gelas kan word. Al die panele van die tent moet eenders lyk. 18Maak twintig panele vir die suidelike muur van die tent. 19Jy moet ook 40 voetstukke van silwer maak om onder die panele te sit.
20-21Die muur van die tent aan die oorkant wat noord front, bestaan ook uit twintig panele met 40 voetstukke, twee onder elke paneel. 22Vir die koppenent aan die westekant moet daar ses gewone panele wees, 23-24en ook twee versterkte hoekpanele. 25Hierdie muur bestaan dus uit agt panele met sestien silwervoetstukke.
26“Jy moet ook dwarslatte van akasiahout maak wat die panele bymekaar kan hou. Daar moet vyf latte vir elke muur wees: 27vyf vir die twee lang kante en vyf vir die muur aan die endkant. 28Die middelste dwarslat moet op halfhoogte dwarsoor die panele van punt tot punt loop. 29Trek die panele met goud oor. Sit goue ringe aan hulle vas waardeur die dwarslatte gesteek kan word. Trek ook die dwarslatte met goud oor. 30Jy moet die tent maak sodat dit presies lyk soos Ek dit vir jou op die berg gewys het.”
Die gordyn binne-in
31“Jy moet ook ’n gordyn maak om die tent in twee te verdeel. Dit moet van geweefde linne wees waarin blou, pers en bloedrooi draad kunstig ingeweef is en waarop figure met vlerke geborduur is. 32Hang die gordyn aan vier regop akasiahoutpale wat met goud oorgetrek is en waaraan daar hakies is. Elke paal moet ’n silwervoetstuk hê. 33Hang die gordyn aan die hakies op sodat dit die deel van die tent wat vir My eenkant gehou word, van die ander deel kan afskort. Kom sit dan die ark met die bewys van die ooreenkoms in, in hierdie afgesonderde deel agter die gordyn neer. 34Sit ook sy deksel op.
35“Kom sit ook die tafel en die ligstaander teenoor mekaar in die ander gedeelte voor die gordyn neer. Die tafel moet teen die noordelike muur staan en die staander vir die lampies teen die suidelike muur.
36“Die ander deel van die tent waar daar nie panele is nie, is die ingang van die tent. Daarvoor moet jy ’n gordyn maak om voor die ingang te hang. Dit moet van geweefde materiaal wees met blou, pers en bloedrooi wol en met borduursel op. 37Dit moet opgehang word met goue hakies aan vyf regop pale wat van akasiahout gemaak is en met goud oorgetrek is. Die regop pale moet op voetstukke staan wat van koper gemaak is.”

Tans Gekies:

Eksodus 26: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid