Eksodus 23:14-33

Eksodus 23:14-33 DB

“Daar is drie feeste wat jy elke jaar moet hou om my Naam groot te maak. Die eerste een is die fees van die brood wat nie met suurdeeg gemaak is nie. Soos Ek tevore al vir jou gesê het, moet jy sewe dae lank net kos eet wat nie suurdeeg in het nie. Jy moet die fees begin op dieselfde dag dat jy uit Egipte weg is. Dit is in die maand Abib. Elkeen wat aan die fees deelneem, moet vir My offers bring. “Die tweede een is die oesfees. Jy moet dit aan die begin van die oesseisoen hou, wanneer jy die eerste graan begin oes. “Die derde een is aan die einde van die seisoen, wanneer jy die laaste deel van die oes inbring. “By al drie hierdie feeste moet al die mansmense die Here jou God by sy blyplek kom aanbid. “Jy moet nooit brood waarin daar suurdeeg is, saam met diere offer nie. Die vet van die dier wat jy by die fees offer, mag ook nie oud word en oorstaan tot die volgende oggend nie. Jy moet die beste gedeelte van die eerste oes wat jy insamel, vir die Here na sy blyplek toe bring. Jy mag nie ’n boklam offer wat so pas gespeen is nie.” “Let daarop: Ek laat die man wat Ek uit die hemel na jou stuur, saam met jou gaan om jou langs die pad te beskerm. Hy sal saam met jou gaan tot by die land wat Ek vir jou eenkant hou. Jy moet hom vertrou dat hy jou sal beskerm. Jy moet luister wat hy vir jou sê. Jy moenie teen hom draai nie. Hy sal dit nie verdra as jy verkeerd met hom maak nie. Hy verteenwoordig My by jou en tree in my plek op. As jy mooi na hom luister en presies doen wat Ek van jou vra, sal Ek ook jou vyande se vyand wees en sal Ek hulle aanval wat jou wil aanval. “My verteenwoordiger sal saam met jou gaan. Hy sal jou laat veg teen die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete. Maar Ek sal hulle uitwis. Jy mag nooit voor hulle gode buig of hulle aanbid nie. Jy moet God ook nooit op dieselfde manier aanbid as wat hulle hulle gode aanbid nie. Jy moet hulle heidense godsdiens met wortel en tak uitroei. Jy moet die klippilare waar hulle hulle gode aanbid, tot op die grond toe afbreek. Jy moet net tot die Here jou God bid en tot geen ander god nie. Die Here sal dit dan goed met jou laat gaan. Hy sal vir jou kos en drinkgoed en gesondheid gee. Daar sal nie in jou land mense wees wat nie kinders kan kry nie. Dit sal ook nie gebeur dat jou kinders doodgebore word nie. Ek sal jou lank en gelukkig laat lewe. “Ek sal jou vyande laat bang word vir My. Ek sal al die volke wat met jou bots, deurmekaarmaak. Ek sal jou vyande vir jou laat vlug. Ek stuur slange voor jou uit om die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor jou uit te verdryf. Ek sal hulle nie dadelik binne die eerste jaar voor jou laat padgee nie. As dit gebeur, kan die land onbewoonbaar raak en die wilde diere alles oorneem. Ek sal hulle bietjie vir bietjie voor jou laat padgee soos jou getalle al meer word en jy al meer plek nodig het om te bly, totdat jy uiteindelik die hele land kan oorneem. Ek sal maak dat jou grense loop van die Rietsee af tot by die See van die Filistyne, van die woestyn af tot by die groot rivier. Ek sal almal wat daar woon, onder jou stel. Jy kan hulle voor jou uit die land wegjaag. Jy mag nie enige ooreenkoms met hulle sluit nie. Ook nie met hulle gode mag jy enige ooreenkoms maak nie. Hulle mag nie in die land bly woon as jy eers daar ingetrek het nie. As hulle daar aanbly, gaan hulle jou verseker op sleeptou neem en verlei om aan My ongehoorsaam te wees. Jy gaan dan in die strik trap om hulle gode te begin aanbid.”

Video vir Eksodus 23:14-33