Van al die Christene is ek die minste werd. Nogtans het God besluit om hierdie voorreg aan my te gee, en dit was onverdiend, glo my. Ek is die een wat nou aan die nie-Jode moet gaan vertel wat Christus alles vir hulle gedoen het. Dit is iets wat ’n mens nooit regtig kan begryp nie, want dit is te wonderlik en groot. Ek moet aan elkeen van hulle verduidelik dat God se redding ook vir hulle bedoel is. Dit was van altyd af wat God - wat alles gemaak het - wou doen, maar mense het dit net nie besef nie. God wil hê dat die kerk vir al die onsigbare magte en heersers in die hemel sal wys hoe wonderlik slim Hy regtig is. Hy weet alles en beplan vir alles. Van die heel begin af het God geweet dat Hy met die koms van Christus, ons Here, hierdie plan van Hom aan die werk sou sit. Omdat ons Jesus s’n is en op Hom vertrou, hoef ons nou nie meer bang te wees om na God toe te gaan nie. Ons kan dit vol vertroue doen sonder om te wonder of ons mag. Ek vra God daarom dat julle nie moed sal verloor omdat ek so swaarkry ter wille van julle nie. Dit wys eerder hoe belangrik julle is. Juis daarom gaan ek op my knieë voor die Vader. Al die gelowiges, of hulle nou reeds in die hemel is of nog hier op die aarde, is wat en wie hulle is omdat God hulle so gemaak het. Ek bid dat God, wat so wonderlik en sterk is, deur sy Gees vir julle die krag sal gee wat julle nodig het om geestelik julle man te kan staan. So sal Christus deel van julle lewens word omdat julle op Hom vertrou. Julle lewens sal gebou wees op liefde. Deur ander met liefde te behandel sal julle lewens die vastigheid kry wat julle nodig het. Ek bid ook dat julle, saam met al die ander Christene, sal kan ervaar hoe lief Christus ons regtig het. Sy liefde kan ons nie met woorde beskryf nie: dit is te groot en wonderlik. G’n mens kan dit met sy verstand uitredeneer nie, want dit is baie groter as wat ons as mense is. Maar ek bid tog dat julle so ’n ietsie daarvan sal snap. Mag God julle lewens met sy teenwoordigheid oorspoel sodat daar nie ’n stukkie van julle lewens is wat nie deur God se teenwoordigheid geraak word nie. God is so magtig en sterk. Juis met daardie krag werk Hy ook in ons. Hy kan en het dinge vir ons gedoen waarvan ons nie eens kon droom nie. Hy verdien daarom al die eer wat die kerk het om te gee, veral as ons dink aan wat Christus Jesus vir ons gedoen het. Almal moet Hom so eer, nou, môre en tot in ewigheid. Mag dit so wees.
Lees Efesiërs 3
Deel
Vergelyk alle weergawes: Efesiërs 3:8-21
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's