Darius, die Mediër, het op die ouderdom van 62 in Belsasar se plek koning geword. Hy het besluit om die koninkryk in 120 provinsies te verdeel en het vir elkeen ’n goewerneur aangestel. Verder het hy ook drie ministers aangestel, van wie Daniël een was. Hulle moes kyk dat die goewerneurs hulle werk reg doen en ook dat die koning se belange beskerm word. Daniël het gou bewys dat hy baie bekwamer was as enige van die ander ministers of goewerneurs. Die koning was so beïndruk met hom dat hy dit oorweeg het om die hele koninkryk onder sy bestuur te plaas. Die ander ministers en goewerneurs het jaloers geword en begin fout soek met die manier waarop Daniël die koninkryk bestuur het. Hulle kon egter geen fout kry nie, aangesien Daniël betroubaar was en niks oneerliks gedoen het nie. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons enigste kans om Daniël vas te trek is as ons hom aankla oor die manier waarop hy sy godsdiens beoefen.”
Hulle is toe weg na die koning toe. By hom aangekom, het hulle hom gegroet: “Lank lewe koning Darius! Al die ministers, adjunkministers, goewerneurs en ander administrateurs het besluit om met u te praat. Ons dink U Majesteit moet ’n koninklike bevel uitvaardig wat sê dat enige persoon wat in die volgende 30 dae enige ander persoon of god buiten U Majesteit aanbid, in ’n hok vol leeus gegooi moet word. Gee nou dadelik so ’n bevel skriftelik en onderteken dit sodat dit onmiddellik in werking tree en niemand dit kan verander nie. Maak dit ’n wet van Meders en Perse wat nie teruggetrek kan word nie.”
Koning Darius het toe so ’n bevel opgestel en geteken. Toe Daniël hoor dat die bevel onderteken is, het hy huis toe gegaan. In een van die boonste kamers van sy huis was daar vensters wat in die rigting van Jerusalem gekyk het. Daar het hy, soos sy gewoonte was, voortgegaan om by die oop vensters te kniel en drie maal per dag tot God te bid en Hom te prys.
Daniël se vyande het hom in sy huis gekry waar hy besig was om God te aanbid en in nederigheid voor Hom te kniel. Hulle is toe haastig daar weg na die koning toe, waar hulle Daniël op grond van die koninklike bevel aangekla het: “U Majesteit, u het mos ’n bevel onderteken wat sê dat enigeen wat binne die volgende 30 dae enige mens of god behalwe u aanbid, in ’n hok vol leeus gegooi moet word.”
“Natuurlik,” het die koning geantwoord, “en dit staan vas, want dit is ’n wet van Meders en Perse wat nie teruggetrek kan word nie.”
Hulle sê toe vir die koning: “Wel, Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom glad nie aan U Majesteit se bevel nie. Hy bid nog steeds drie maal op ’n dag tot sy God.”
Toe die koning dit hoor, was hy ontsteld omdat hy die bevel geteken het. Hy het die res van die dag bestee om ’n manier te probeer kry om vir Daniël uit hierdie situasie te red. Teen die aand se kant het die klomp weer na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “U Majesteit besef natuurlik dat volgens die wet van Meders en Perse geen bevel van die koning verander kan word nie.”
Die koning moes toe maar die opdrag gee om Daniël te arresteer en in die leeukuil te gooi. Hy sê toe vir Daniël: “Mag jou God wat jy so getrou dien, jou red.”
Hulle het ’n klip gaan haal en dit oor die opening van die plek gesit waar die leeus was. Daarna het die koning sy amptelike seël en ook dié van sy hooggeplaaste amptenare op die klip aangebring. So is Daniël se lot beseël. Die koning is terug paleis toe, waar hy ’n slapelose nag deurgebring het, sonder kos of enige ander tydverdryf.
Vroeg die volgende môre het die koning opgestaan en vinnig na die leeukuil toe gegaan. Daar aangekom, het hy benoud geroep: “Daniël, dienaar van die lewende God! Was jou God wat jy so getrou dien, in staat om jou van die leeus te red?”
Daniël antwoord toe: “Mag die koning nog lank lewe! My God het sy engel gestuur om die leeus se bekke toe te hou sodat hulle my niks kon aandoen nie. Hy het dit gedoen omdat Hy weet dat ek onskuldig is. Ek het nie teen Hom gesondig nie en ook niks verkeerds teen U Majesteit gedoen nie.”
Hieroor was die koning baie bly. Hy het dadelik opdrag gegee dat Daniël uit die leeukuil opgetrek moes word. Nadat die mense Daniël uit die leeukuil gehaal het, het hulle gesien dat daar nie ’n enkele merk aan hom was nie. Dit was so omdat hy op sy God vertrou het. Daarna het die koning beveel dat die mense wat Daniël by hom aangekla het, saam met hulle families gevang moes word. Hulle en hulle families is toe saam in die leeukuil gegooi. Hulle het skaars grond geraak of die leeus was op hulle, besig om hulle te verskeur.
Daarna het koning Darius die volgende boodskap aan al die volke, nasies en taalgroepe van die wêreld gestuur: “Vrede en voorspoed vir julle! Ek beveel dat die God van Daniël in my hele koninkryk geëer en gerespekteer moet word. Hy is die lewende God en Hy bestaan vir ewig en altyd. Sy koninkryk sal nooit tot ’n einde kom nie, sy heerskappy sal vir altyd aanhou. Hy red en verlos sy mense; Hy doen bonatuurlike tekens en wonders in die hemel en op die aarde. Dit is Hy wat vir Daniël bewaar het sodat die leeus niks aan hom gedoen het nie.”
Daniël was baie voorspoedig tydens die regerings van Darius en die Persiese koning Kores.