’n Klompie Babiloniërs het die Judeërs in die moeilikheid probeer kry. Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Lank lewe die koning! U het mos die opdrag gegee dat as die musiek begin, almal voor die goue standbeeld moet kniel en dit moet aanbid, en dat enigeen wat weier om dit te doen, dadelik in ’n vuurwarm oond gegooi moet word. Wel, daardie Judeërs, Sadrag, Mesag en Abednego, wat u aan die bestuur van die provinsie Babel geplaas het, steur hulle nie aan u opdrag nie. Hulle weier om u gode te aanbid of om voor die beeld wat u laat maak het te kniel.”
Hieroor was Nebukadnesar baie kwaad. Hy het opdrag gegee dat Sadrag, Mesag en Abednego na hom toe gebring moet word. Toe hulle voor hom staan, het Nebukadnesar vir hulle gevra: “Sadrag, Mesag en Abednego, is dit waar dat julle weier om my gode te aanbid en om voor die goue beeld wat ek gemaak het te kniel? Ek gaan julle nog een kans gee. As julle bereid is om voor die standbeeld te kniel en dit te aanbid as julle die musiek hoor, sal ek niks aan julle doen nie. Maar as julle weier, sal julle dadelik in die vuurwarm oond gegooi word. Dink mooi, want watter god sal julle daaruit kan red?”
Toe antwoord Sadrag, Mesag en Abednego: “Koning Nebukadnesar, ons hoef ons nie voor u te probeer verdedig nie. Die God wat ons dien, kan ons uit die oond en uit u mag red as Hy wil. En selfs al wil Hy nie, kan u maar seker weet dat ons nooit u gode of die goue beeld wat u laat maak het, sal dien en aanbid nie.”
Nebukadnesar het skoon bleek geword van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego. Hy het beveel dat die oond sewe maal warmer as gewoonlik gemaak moes word. Daarna het hy van die sterkste soldate beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die vuurwarm oond te gooi. Hulle is toe vasgebind en sommer met klere en al in die rooiwarm oond gegooi. Omdat die koning in sy woede opdrag gegee het dat die vuur verskriklik warm gemaak moes word, het die hitte van die oond die soldate verbrand toe hulle die drie in die oond gegooi het. Sadrag, Mesag en Abednego het met toue om hulle lyf in die oond geval.
Skielik het Nebukadnesar van verbasing opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons nie net drie mans vasgemaak en in die oond gegooi nie?”
“Dit is waar, U Majesteit,” het hulle geantwoord.
“Wel, hoekom sien ek dan vier mense daar in die vuur rondloop? Kyk, hulle is nie eers vasgebind nie en die vuur doen net mooi niks aan hulle nie. Boonop lyk die vierde persoon vir my net soos ’n hemelwese.”
Nebukadnesar het toe na die oond toe gestap en geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van die allerhoogste God, kom uit!” Hulle het dadelik uit die oond gekom. Al die prinse, premiers, administrateurs en ander amptenare van die koning het nader gekom om na die drie mans te kyk. Hulle was verstom om te sien dat die vuur niks aan hulle gedoen het nie. Hulle hare was nie geskroei nie en daar was nie ’n enkele brandmerk aan hulle klere nie. Hulle het nie eens na rook geruik nie.
Toe sê Nebukadnesar: “Loof die God van Sadrag, Mesag en Abednego! Hy het sy engel gestuur om hierdie mense wat Hom dien en vertrou te kom red. Hulle het geweier om die koning se bevel te gehoorsaam. Hulle was bereid om dood te gaan eerder as om enige ander god te aanbid behalwe hulle eie God. Daarom vaardig ek vandag ’n koninklike bevel uit. Enige persoon van watter volk, nasie of taalgroep ook al wat lelike dinge sê van Sadrag, Mesag en Abednego se God, moet onmiddellik stadig doodgemaak en sy huis vernietig word. Daar is nie nog ’n god hier op aarde wat so kan red nie.”
Hierna het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego na nog hoër posisies in die provinsie Babel bevorder.