DANIËL 3:8-30

DANIËL 3:8-30 NLV

Van die wyse manne het toe na die koning gegaan en van die Judeërs aangekla. Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Mag die koning lank lewe! U Majesteit het mos ’n bevel uitgereik dat elkeen wat die geluid van die trompet, fluit, siter, lier, harp of enige ander musiekinstrument hoor, dadelik moet neerval en die goue beeld aanbid. Dié wat dit nie doen nie, sal in die vuuroond gegooi word. Maar daar is Joodse mans wat nie doen wat die koning gelas het nie. Dit is Sadrag, Mesag en Abednego wat u oor die administrasie van die provinsie van Babel aangestel het. Hulle gee nie eer aan u gode nie en hulle aanbid nie die goue beeld wat u opgerig het nie.” Nebukadnesar was woedend en hy het beveel dat Sadrag, Mesag en Abednego na hom toe gebring moet word. Toe hulle voor die koning kom, het Nebukadnesar vir hulle gevra: “Sadrag, Mesag en Abednego, is dit waar dat julle nie aan my gode eer wil bewys nie en nie die goue beeld wat ek opgerig het, wil aanbid nie? Kyk, ek gee julle nog een keer kans. Luister wanneer julle die musiekinstrumente hoor speel en aanbid die beeld wat ek gemaak het. As julle dit nie aanbid nie, sal julle onmiddellik in die vlammende oond gegooi word. Watter god sal julle dán uit my hand kan red?” Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons ag dit nie nodig om u hierop te antwoord nie. Die God wat ons aanbid, kán ons uit die vuur red. Hy sal ons uit u mag bevry, U Majesteit. En selfs al red Hy ons nie, U Majesteit, sal ons nie u gode vereer nie. Ons sal nie die goue beeld wat u gemaak het, aanbid nie.” Die koning was so kwaad vir Sadrag, Mesag en Abednego dat sy gesig vertrek het. Hy het opdrag gegee dat die oond sewe keer warmer as gewoonlik gemaak moet word. Hy het sterk mans uit sy leër aangesê om Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die oond met sy skroeiende vlamme te gooi. Hulle het toe die drie mans vasgebind en hulle in die brandende oond gegooi met hulle klere en al. Omdat die koning beveel het dat die vuur so warm gemaak moet word, het die vlamme uit die oond die mense doodgebrand wat Sadrag, Mesag en Abednego in die oond gegooi het. Die drie mans, Sadrag, Mesag en Abednego, het so vasgebind in die brandende oond beland. Koning Nebukadnesar was egter verstom. Hy het opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Was dit nie drie mans wat ons vasgebind het en in die vuur gegooi het nie?” “Ja, beslis, U Majesteit,” het hulle vir hom gesê. Hy sê toe vir hulle: “Ek sien dan vier mans in die oond rondloop. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle makeer niks. Die vierde een lyk soos ’n bo-aardse wese.” Nebukadnesar het so naby hy kan aan die deur van die vlammende oond gaan staan. Hy het geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van God die Allerhoogste, kom uit en kom hier na my toe!” Sadrag, Mesag en Abednego het toe uit die vlammende oond gekom. Die amptenare, hoofgoewerneurs, goewerneurs en ministers van die koning het om hulle saamgedrom. Hulle het gesien dat die vuur niks aan hulle gedoen het nie. Die hare op hulle kop was nie eers geskroei nie. Hulle klere het niks oorgekom nie en hulle het nie na rook geruik nie. Nebukadnesar het gesê: “Loof die God van Sadrag, Mesag en Abednego! Hy het sy engel gestuur om sy dienaars wat op Hom vertrou het, te red. Hulle het die koning se bevel verontagsaam en was bereid om hulle lewens te gee eerder as om eer te bewys aan enige ander god of enigeen buiten hulle eie God te dien. Ek vaardig nou ’n wet uit dat enige volk, nasie of taal wat sonder respek oor Sadrag, Mesag en Abednego se God praat, in stukke gekap word, en van hulle huise sal ’n ashoop gemaak word. Daar is geen ander god wat so kan red soos Hy nie!” Daarna het hy Sadrag, Mesag en Abednego bevorder en nog hoër posisies aan hulle in die provinsie van Babel gegee.