Daniël 3:1-18

Daniël 3:1-18 DB

Koning Nebukadnesar het ’n goue standbeeld laat maak, 27 meter hoog en amper drie meter breed. Hy het dit in die vlakte van Dura in die provinsie Babel laat oprig. Toe het hy beveel dat al sy amptenare, die prinse, die hoofde, die administrateurs, die raadgewers, die bankiers, die regters, die landdroste en al die ander belangrike amptenare van die provinsies bymekaar moes kom vir die inwyding van die beeld wat hy laat oprig het. Toe al hierdie belangrike amptenare aangekom het, het hulle voor die beeld gaan staan wat koning Nebukadnesar laat maak het. Toe het ’n aankondiger hard uitgeroep: “Mense van alle volke, nasies en taalgroepe, hierdie is die koning se bevel: Sodra julle die trompette, fluite, siters, liere, harpe en ander blaas- en musiekinstrumente hoor, moet julle voor die goue beeld kniel wat koning Nebukadnesar laat maak het en dit aanbid. Enigeen wat weier om die beeld te aanbid sal dadelik in ’n vuurwarm oond gegooi word.” Daarom het al die volke, nasies en taalgroepe, toe hulle die blaas- en musiekinstrumente hoor speel, voor die beeld gekniel wat koning Nebukadnesar laat oprig het en dit aanbid. ’n Klompie Babiloniërs het die Judeërs in die moeilikheid probeer kry. Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Lank lewe die koning! U het mos die opdrag gegee dat as die musiek begin, almal voor die goue standbeeld moet kniel en dit moet aanbid, en dat enigeen wat weier om dit te doen, dadelik in ’n vuurwarm oond gegooi moet word. Wel, daardie Judeërs, Sadrag, Mesag en Abednego, wat u aan die bestuur van die provinsie Babel geplaas het, steur hulle nie aan u opdrag nie. Hulle weier om u gode te aanbid of om voor die beeld wat u laat maak het te kniel.” Hieroor was Nebukadnesar baie kwaad. Hy het opdrag gegee dat Sadrag, Mesag en Abednego na hom toe gebring moet word. Toe hulle voor hom staan, het Nebukadnesar vir hulle gevra: “Sadrag, Mesag en Abednego, is dit waar dat julle weier om my gode te aanbid en om voor die goue beeld wat ek gemaak het te kniel? Ek gaan julle nog een kans gee. As julle bereid is om voor die standbeeld te kniel en dit te aanbid as julle die musiek hoor, sal ek niks aan julle doen nie. Maar as julle weier, sal julle dadelik in die vuurwarm oond gegooi word. Dink mooi, want watter god sal julle daaruit kan red?” Toe antwoord Sadrag, Mesag en Abednego: “Koning Nebukadnesar, ons hoef ons nie voor u te probeer verdedig nie. Die God wat ons dien, kan ons uit die oond en uit u mag red as Hy wil. En selfs al wil Hy nie, kan u maar seker weet dat ons nooit u gode of die goue beeld wat u laat maak het, sal dien en aanbid nie.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Daniël 3:1-18