Ek het die Here by die altaar sien staan. Hy het gesê: “Slaan die bokante van die pilare stukkend sodat die hele gebou tot in sy fondamente inmekaarstort. Laat die gebou instort op al die mense wat binne-in die tempel is. Dié wat bly leef, sal Ek in die oorlog laat doodmaak. Nie een sal kan wegvlug nie. Daar sal nie een vrykom nie. Al grawe hulle ’n gat tot onder waar die dooies bly om daar weg te kruip, sal hulle nie kan wegkom nie. Ek sal hulle met my eie hand daar gaan uithaal. Al kry hulle dit reg om tot bo in die hemel te klim, sal Ek hulle daar gaan uithaal. Al gaan kruip hulle weg op die top van die Karmelberg, sal Ek hulle daar gaan haal en hulle dwing om af te kom. Al probeer hulle hulleself vir my wegsteek onder in die see, sal Ek die seeslang stuur om hulle daar te gaan pik. Selfs al gaan hulle weg na ’n ander land, selfs al vat die vyand hulle baie ver weg, sal hulle nie van My af kan wegkom nie. Selfs daar sal Ek hulle laat doodmaak. Ek hou hulle dop om met hulle af te reken. Hulle kan nie van My af wegkom nie.” Wanneer die Here, die God wat baie sterk is, selfs net saggies aan die aarde raak, skud die hele aarde. Almal wat daarop woon, begin treur. Alles kom aan die beweeg soos wanneer die Nyl met geweld afkom en ’n spoor van verwoesting agterlaat wanneer dit weer terugsak na waar dit vroeër was. Die Here bou vir Hom ’n solder bo in die hemel. Hy maak sy kelder onder op die aarde. Hy roep die see bymekaar en Hy giet reën uit oor die aarde. Sy Naam is “Die Here”. “Dink die Israeliete dat hulle vir My belangriker is as die Etiopiërs?” vra die Here. “Ek het wel Israel uit Egipte laat wegtrek. Maar Ek het net so die Filistyne uit Kreta laat kom en die Siriërs uit Kir.” My Heer, die Here, hou die koninkryk dop wat so in die sonde verval het. “Ek sal hom laat wegraak,” sê die Here, “maar Ek is glad nie van plan om die nageslag van Jakob heeltemal uit te wis nie. Ek het gesê dat die Israeliete tussen die nasies ingegooi moet word. Hulle moet onder die nasies rondgeskud word soos koring in ’n sif geskud word. Maar daar mag nie een enkele korreltjie uit die sif val en op die grond beland nie. Maar almal uit my volk wat sonde doen, sal met die swaard doodgemaak word, almal wat sê: ‘Die onheil sal ons nie tref nie.’” “Die dag sal kom waarop Ek die huis van Dawid heel sal maak. Soos ’n mens ’n murasie herstel om dit weer ’n huis te maak om in te woon, sal Ek die gate in die muur toestop. Ek sal die mure weer opbou. Ek sal dit herstel om weer te lyk soos dit vroeër gelyk het. Ek gaan Israel oor Edom aanstel. Hy sal in beheer wees van al die nasies waaroor Ek regeer,” sê die Here wat dit gaan laat gebeur. “Daar kom ’n tyd van voorspoed,” sê die Here. “Wanneer die oes skaars bymekaar-gemaak is, sal dit al weer tyd wees om te begin ploeg om die saad in die grond te kry. Die saaityd sal nog aan die gang wees, dan sal dit al weer tyd wees om druiwe te pluk om te pars. Daar sal so baie druiwe wees om uit te trap dat die druiwesap teen die berge sal afstroom. Die heuwels sal oorvloei word met nuwe wyn. “Ek sal my volk Israel se omstandighede verander. Hulle sal terugkom uit die lande waarheen hulle weggevat is. Hulle sal teruggaan na die dorpe waar hulle gewoon het. Hulle sal woon in die stede wat hulle opgebou het. Hulle sal weer wingerde aanplant en druiwe vir wyn kan pluk. Hulle sal weer tuine hê wat vir hulle groente gee. Ek sal hulle terugplant in die grond wat Ek vir hulle gegee het. Hulle sal nooit weer uit daardie grond uitgetrek kan word nie,” sê die Here jou God.
Lees Amos 9
Deel
Vergelyk alle weergawes: Amos 9:1-15
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's