Nadat die reëlings klaar was vir die seereis na Italië waar Paulus voor die keiser moes gaan verskyn, is hy en ’n groep ander gevangenes in die sorg van ’n Romeinse kaptein genaamd Julius geplaas. Hy was ’n offisier in die keiserlike regiment. Ek, Lukas, en Aristargos, ’n gelowige uit Tessalonika in die Romeinse provinsie Masedonië, het Paulus vergesel. Ons het met ’n skip uit Adramittium gereis wat op pad was na ’n paar hawens in Asië. Die volgende dag het ons skip in Sidon aangekom. Julius, die Romeinse bevelvoerder, het Paulus toegelaat om gou ’n paar vriende daar te besoek. Van Sidon af het ons noordwaarts gereis. Ons het aan die onderkant van die eiland Siprus verbygevaar waar ons beskut was teen die sterk wind. Van daar af het ons al langs die kus van Silisië en Pamfilië af tot by Mira in Lisië gevaar. In Mira het ons op ’n ander skip geklim wat op pad was Italië toe. As gevolg van stormweer op die see het ons van daar af baie stadig gevaar. Uiteindelik het ons met ’n groot gesukkel tot regoor Knidus gekom. As gevolg van die sterk stormwind moes ons van roete verander. Ons het aan die beskutte kant van die eiland Kreta by Salmone verbygevaar. Toe ons uiteindelik daar verby is, het ons by ’n plek met die naam Mooi Hawens aangekom. Dit is naby die stad Lasea. As gevolg van die sterk stormwinde op die see het ons baie tyd verloor. Boonop was die winter net om die draai. Die vastyd wat net voor die Joodse Versoendag plaasgevind en wat altyd in die herfs geval het, was ook al verby. Van dan af was dit baie gevaarlik om op die see te vaar. Op ’n dag het Paulus almal op die skip gewaarsku: “Manne, daar wag ’n groot ramp op ons. Ek sien dat ons skip met vrag en al sal vergaan. Heelwat mense sal ook in die ramp omkom.” Die Romeinse offisier het toe vir die kaptein van die skip en vir die eienaar gaan vra wat om te doen. Hulle het vir hom gesê dat Mooi Hawens se hawe nie die regte plek was om tydens die winter oor te bly nie. Die offisier het hulle raad aanvaar en saam met die res van die bemanning besluit om verder te vaar. Hulle wou so gou moontlik by Feniks uitkom. Hierdie hawe, wat na die suidweste en na die noordweste met die see verbind is, was volgens hulle ’n meer geskikte plek om te oorwinter. Die volgende dag het ’n ligte suidewind begin waai. Dadelik is die skip se anker gelig, omdat die bemanning gedink het dat die weer nou reg was om veilig tot in Feniks te vaar. Ons was egter skaars by Kreta verby of ons loop ons in daardie gevreesde noordoostewind vas waarvoor al die seevaarders so bang is. Hierdie stormwind, wat die Eurakilon genoem word, het ons skip soos ’n stukkie papier meegesleur. Ons kon dit glad nie op koers hou nie. Toe ons later naby die eiland Kauda kom, het ons na ’n groot gesukkel ons reddingsbootjie, wat agter die skip met ’n tou vasgemaak was, aan boord gekry. Daarna het die matrose toue onder om die skip vasgemaak. Dit het die skip se romp versterk teen die storm. Omdat hulle bang was dat die skip hom op die sandbanke te pletter sou loop, het hulle die dryfankers ook laat sak. Ons het begin wegdryf van die gevaarlike kuslyn af. Die storm het ons skip heen en weer op die see geslinger. Die volgende dag is die vrag in die see gegooi om die skip ligter te maak. En die dag daarna moes almal aan boord hand bysit om die skip se toerusting ook in die see te gooi. Dae lank kon ons glad nie die son of die sterre sien nie. Omdat die storm net nie wou bedaar nie, het ons later alle hoop laat vaar dat ons gered sou word.
Lees Handelinge 27
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Handelinge 27:1-20
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's