Handelinge 27:1-20

Handelinge 27:1-20 AFR20

Toe daar besluit is dat ons na Italië moes vaar, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes uitgelewer aan 'n centurio van die keiserlike kohort soldate met die naam Julius. Ons het aan boord gegaan van 'n skip uit Adramittium wat gereed was om na plekke langs die kus van Asië te vaar, en toe weggeseil. Aristargus, 'n Macedoniër uit Thessalonika, was saam met ons. Die volgende dag het ons by Sidon anker gegooi, en Julius het heel welwillend teenoor Paulus opgetree en hom toegelaat om na sy vriende te gaan en om hulle sorg te geniet. Van daar af het ons weggeseil, en omdat die wind teen ons was, het ons aan die beskutte kant van Ciprus verbygevaar. Nadat ons die oop see langs Silisië en Pamfilië oorgesteek het, het ons by Mira in Lisië aangekom. Daar het die centurio 'n skip uit Aleksandrië gevind wat na Italië vaar, en ons aan boord laat gaan. Vir 'n hele paar dae het ons maar stadig gevaar, en met moeite naby Knidus gekom. Omdat die wind ons nie toegelaat het nie, het ons aan die beskutte kant van Kreta, by Salmone, verbygevaar. Nadat ons met moeite daarlangs verby beweeg het, het ons aangekom by 'n plek bekend as Mooi Hawens, wat naby die stad Lasea was. Aangesien heelwat tyd al verloop het, en dit gevaarlik geword het om te vaar – die Vasdag was immers reeds verby – het Paulus hulle gewaarsku deur vir hulle te sê: “Manne, ek sien dat die vaart skade en groot verlies sal meebring, nie alleen aan die vrag en die skip nie, maar ook aan ons eie lewens.” Maar die centurio het meer waarde geheg aan die stuurman en die skeepseienaar se oordeel as aan Paulus se woorde. Omdat die hawe nie geskik was vir oorwintering nie, het die meerderheid besluit om daarvandaan uit te vaar en om, indien moontlik, Feniks te bereik – 'n hawe in Kreta met 'n uitkyk op die suidweste en die noordweste – en daar te oorwinter. Toe 'n ligte suidewind begin waai, het hulle gedink hulle kon hulle voorneme uitvoer. Hulle het die anker gelig en al langs die kus van Kreta verby beweeg. Maar dit was nie lank nie, of daar swiep van die land af 'n stormwind neer wat as die Eurakilon bekend staan. Omdat die skip meegesleur is en nie in staat was om teen die wind in te beur nie, het ons ons daaraan oorgegee en weggedryf. Toe ons aan die beskutte kant van 'n klein eilandjie bekend as Cauda kom, het ons met moeite daarin geslaag om die sloep onder beheer te kry. Nadat die bemanning die sloep opgehys het, het hulle toue onder die skip deurgetrek om dit te verstewig. Omdat hulle bang was dat hulle op die Sirtis sou strand, het hulle die dryfanker laat sak, en so het hulle weggedryf. Omdat ons so geweldig deur die storm geteister is, het hulle die volgende dag begin om die skeepsvrag oorboord te gooi, en op die derde dag het hulle met hulle eie hande die skip se toerusting oorboord gegooi. Die son en die sterre het vir baie dae nie geskyn nie, en die storm het ook nie in hewigheid afgeneem nie, sodat alle hoop om gered te word, ons ontneem is.