Handelinge 13:16-41

Handelinge 13:16-41 DB

Paulus het opgestaan en vir almal in die sinagoge beduie om stil te bly. Toe sê hy vir hulle: “Geagte volksgenote, ek kom agter dat julle groot respek vir God het. Daarom moet julle nou baie mooi luister. God het ons voorvaders baie jammer gekry. Daarom het Hy hulle as sy volk uitgekies. Toe hulle nog slawe en vreemdelinge in Egipte was, het Hy hulle daar gaan uithaal en van hulle ’n groot volk gemaak. Veertig jaar lank het Hy vir hulle in die woestyn gesorg. Daarna het Hy sewe volke in Kanaän vernietig en hulle grond aan ons voorouers gegee. Gedurende hierdie tyd van sowat 450 jaar het God ’n hele klomp rigters aangestel om sy volk te lei totdat die profeet Samuel op die toneel verskyn het. “In Samuel se tyd wou die volk ’n koning hê om oor hulle te regeer. God het Saul, die seun van Kis uit die stam van Benjamin, as koning aangestel. Hy het 40 jaar lank regeer. Nadat God hom van die toneel verwyder het, het Hy Dawid as die nuwe koning aangewys. God het van hom gesê: ‘Ek het oral gesoek totdat ek Dawid, Isai se seun, gekry het. Hy is iemand so reg na my hart. Hy sal alles doen wat Ek vir hom sê.’ “Uit Dawid se nageslag het God ’n Redder vir Israel laat voortkom. Sy naam is Jesus. Net voor Hom het Johannes die Doper daar in Galilea opgetree. Hy het vir die volk gesê dat hulle hulle sondes moet laat staan en hulle tot God moet bekeer. Diegene wat bereid was om dit te doen, is toe deur hom gedoop. Toe Johannes amper klaar was met sy werk, het hy gesê: ‘Dink julle dat ek die Een, die Gestuurde van God is? Wel, julle is verkeerd. Ek is nie Hy nie. As ek klaar is met my werk, sal hierdie Een op die toneel verskyn. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om die werk van ’n slaaf vir Hom te doen deur sy skoene vir Hom vas te maak nie.’” “Broers, julle is Abraham se nageslag. Julle is die mense wat groot respek vir God het. Weet julle, hierdie boodskap van verlossing is spesiaal vir julle bedoel. “Die inwoners van Jerusalem en al hulle leiers het nie ’n idee gehad wie Jesus regtig is nie. Daarom het hulle Hom doodgemaak. So het hulle die woorde van die profete waar laat word wat julle elke sabbat hier in julle sinagoge lees. Daardie mense het glad nie ’n goeie rede gehad om Jesus dood te maak nie, maar nogtans het hulle dit gedoen. Hulle het by die Romeinse goewerneur, Pilatus, gaan soebat dat hy Hom moes teregstel. “Nadat hierdie mense alles aan die Messias gedoen het wat die profete gesê het hulle sou doen, het hulle sy liggaam van die kruis afgehaal en Hom gaan begrawe. “God het Hom weer lewendig gemaak. Daarna het Jesus dikwels aan sy volgelinge verskyn. Dit is hulle wat van die tyd toe Hy in Galilea gepreek het oral saam met Hom rondgegaan het. Daardie mans het met hulle eie oë gesien dat Hy lewe. Hulle is op hierdie selfde oomblik besig om oral onder die Israeliete te preek.” “Ons het vandag baie goeie nuus vir julle: al die beloftes wat God aan ons voorouers gemaak het, het nou waar geword. Ons, hulle kinders, kan nou hoor en sien dat dit waar geword het toe Hy Jesus lewendig gemaak het. Een van die psalms beskryf dit glashelder: ‘Jy is my Seun. Net jy! Vandag verklaar Ek voor almal dat Ek jou Vader is.’ “Toe God Jesus lewendig gemaak het, het Hy dit eens en vir altyd gedoen. Jesus sal nooit weer doodgaan en in die doderyk vergaan nie. So het God alles waar laat word wat Dawid vroeër gesê het: ‘U sal nooit toelaat dat u eie kneg in die doderyk vergaan nie.’ “Dawid het natuurlik nie oor homself gepraat toe hy dit geskryf het nie. Hy is immers lankal dood en begrawe. Van hom het daar niks oorgebly nie. Maar Jesus is deur God lewendig gemaak. Hy sal nooit weer die binnekant van die doderyk met al sy verrotting sien nie. “Vriende, julle moet mooi luister na wat ek vandag vir julle sê: julle moet begryp dat Jesus al julle sondes kan vergewe. Dit is die boodskap wat ek vandag aan julle bring. Ja, Hy kan selfs daardie sondes van julle wegvat wat die wet van Moses nie kan wegvat nie. Elkeen wat in Jesus glo, se saak met God is weer in orde. “Moenie die fout maak om hierdie boodskap te verwerp nie. Dan gaan dit van julle waar wees wat God deur een van sy boodskappers gesê het: ‘Oppas, julle spul spotters. Julle gaan verbaas staan oor wat Ek onder julle gaan doen. Dit gaan so indrukwekkend wees dat julle dit nie sou glo as iemand anders julle daarvan vertel het nie. Maar dan sal dit te laat wees, want Ek gaan julle vernietig.’”