My liewe vriende, julle weet dat dit reeds die tweede brief is wat ek aan julle skryf. Net soos in die vorige brief wil ek hê dat julle nou ook baie mooi moet luister en reg dink. Doen die volgende: Luister na alles wat die profete van die Here vir julle sê. En luister ook na die voorskrifte wat ons Here en Verlosser deur julle apostels vir julle gegee het. Onthou, gedurende die laaste dae hier op aarde sal daar spotters op die toneel verskyn. Hulle sal leef net soos hulle wil. Hierdie spul sal ook spottende dinge sê soos: “En wanneer gaan die wederkoms nogal plaasvind? Ons voorvaders is al dood en begrawe. Hulle het hulle dood gewag op die wederkoms, maar net mooi niks het nog verander nie. Alles gaan steeds op dieselfde ou trant aan, net soos dit van die begin af was.” Die mense wat sulke goed sê, vergeet ewe gerieflik ’n paar belangrike dinge oor God. Hulle vergeet dat God lank terug die hemel en die aarde uit water gemaak het. Hy het dit gedoen deur net ’n woord te sê. En hulle vergeet ook hoe God daarna die wêreld deur ’n reuse-oorstroming vernietig het. Dis dieselfde hemel en aarde waarin ons nou elke dag leef en wat gereed gehou word vir die groot vuur. God moet net ’n woord sê, dan breek die oordeelsdag aan wanneer Hy al die goddelose mense eens en vir altyd sal skuldig bevind en vernietig. My liewe vriende, moenie dink dat God van ons mensgemaakte kalenders afhanklik is nie. Dit is glad nie so nie. Vir God is een dag net so goed soos 1 000 jaar, en 1 000 jaar net soos een dag. Daarom is Hy glad nie laat vir sy afspraak met die wêreld nie, al dink party spotters so. Die Here stel nie sy belofte uit nie. Hy sal sy woord hou. Op die oomblik is God net geduldig met julle almal. Hy wil nie hê dat sommige mense verlore moet gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. Niemand weet wanneer die Here na ons toe terugkom nie. Dit sal onverwags wees, net so onverwags soos ’n dief wat iewers in ’n huis inbreek. Op daardie dag sal die hemelruim bokant julle inmekaarstort, die sterre en die planete sal tot ’n hoop as verbrand, en die aarde met alles daarop sal vergaan. Julle weet dat al die dinge waarvan ek praat enige oomblik kan plaasvind. Daarom moet julle al hoe meer doen wat God vra. Gryp elke kans aan! Wys dat julle net aan Hom behoort. Sien uit na die dag waarop die Here terugkom. Leef so dat God die datum van sy terugkeer sal vervroeg. Leef daardie groot dag nader! Op daardie dag sal die hemelruim in vlamme verbrand en al die sterre en planete in ’n oomblik wegsmelt. Ons hou met alles in ons vas aan die belofte dat ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde op pad is, presies net soos God belowe het. Daar sal God se wil seëvier. Wat ’n wonderlike vooruitsig!
Lees 2 Petrus 3
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 Petrus 3:1-13
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's