Elisa het hom geantwoord: “Luister ’n bietjie wat sê die Here: ‘Môre, omtrent hierdie tyd, sal ses liter fynmeel of twaalf liter garsmeel op Samaria se mark net ’n paar gram silwer kos.’” “Jy is verspot, man!” het die offisier wat saam met die koning was, vir Elisa gesê. “Selfs al maak die Here die hemel se vensters nóú oop, kan jou storie nie waar word nie!” Elisa het hom geantwoord: “Jy sal dit self sien gebeur, maar jy sal nie daarvan eet nie.” Vier melaatse mans, mense met ’n ernstige velsiekte, het buite die poort van Samaria gebly. Hulle het vir mekaar gesê: “Waarom sal ons nou hier bly sit om dood te gaan? In die stad is daar nie redding nie, die hongersnood is te erg en ons sal daar doodgaan. As ons net hier bly, sal ons ook sterf! Dus, kom ons loop oor na die Arameërs toe. As hulle ons lewe spaar, dan leef ons ten minste. As hulle ons doodmaak, is dit tog maar net wat hier ook met ons sou gebeur het.” Hulle het toe teen die aand oorgeloop na die Arameërs se kamp toe. Toe hulle daar aankom, was daar nie ’n mens nie. Dit is wat gebeur het: Die Here het die Aramese soldate ’n geluid laat hoor wat geklink het soos ’n groot leërmag wat hulle aanval. Dit het geklink soos ’n geweldige klomp strydwaens en perde. Hulle het toe vir mekaar gesê: “Israel se koning het die Hetiete en die Egiptiese leërs gehuur om teen ons te kom veg.” Die Arameërs het bang geword en vir hulle lewe gevlug. Hulle is teen skemer daar weg en het die hele kamp met tente, perde, donkies en voorrade net so laat staan. Dit is hoe die vier melaatse Israeliete die kamp gevind het. Hulle het by die eerste die beste tent ingegaan en geëet en gedrink tot hulle genoeg gehad het. Hulle het al die silwer, goud en klere gevat wat hulle kon kry en dit buite die kamp gaan wegsteek. Toe het hulle dit by ’n tweede tent ook gedoen. Maar toe het hulle vir mekaar gesê: “Eintlik maak ons nie reg nie. Hierdie is baie goeie nuus, maar ons het dit nog vir niemand vertel nie! As ons dit tot môre vir onsself hou, kan daar dalk iets slegs met ons gebeur. Kom ons gaan terug. Dan kan ons die goeie nuus vir almal by die paleis gaan vertel.” Hulle is toe terug stad toe. Hulle het die stad se poortwagters geroep en vertel wat in die vyand se kamp gebeur het. Hulle het gesê: “Toe ons by die Arameërs se kamp kom, was daar geen mens in sig nie. Daar was net perde en donkies wat vasgemaak was en die tente wat daar staan.” Die poortwagters het die boodskap oorgedra tot by die koning in sy paleis. Toe die koning die nuus kry, het hy in die middel van die nag opgestaan. Hy het vir sy offisiere gesê: “Laat ek julle vertel wat die Arameërs se plan is. Hulle weet tog dat ons hier in die stad van die honger vergaan. Nou het hulle hulle kamp ontruim en in die veld gaan wegkruip. Hulle probeer ons uit die stad uitlok om ons gevange te neem en die stad dan in te neem.”
Lees 2 Konings 7
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 Konings 7:1-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's